Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bendeleier en seun geskiet: ‘Daar kom oorlog’

Ernie “Lastag” Solomon (62), vermeende hoofleier van die Terrible Josters-bende, en sy seun, Carlo (36), het elkeen Dinsdag ’n operasie ondergaan om koeëls uit hul lywe te verwyder.

Ernie “Lastag” Solomon. Foto: Peter Abrahams/Son

Pa en seun is Maandag in ’n mislukte sluipmoordaanval in Hawston, sowat 11 km van Hermanus, ernstig gewond. Ernie is na wat verneem word vyf keer raakgeskiet en Carlo drie keer.

Jonathan “Blikke” Thomas (42), wat saam met hulle was, is doodgeskiet.

Die skietery het omstreeks 19:15 voor Charlies Café & Take Aways in Hawston gebeur. Die winkel behoort aan Solomon en is langs die Octopus-klub, glo die hoofkwartier van die Terrible Josters-bende.

Bronne sê mans in ’n ou model wit Hilux-bakkie en ’n rooi Volkswagen GTI het met outomatiese gewere op die Solomons en Thomas geskiet.

Hulle is na die Mediclinic Hermanus geneem.

Die polisie het versterkings by die hospitaal ontplooi nadat ’n WhatsApp die ronde gedoen het dat die skieters op pad is na die hospitaal om Solomon-hulle “klaar te maak”.

Veiligheidskameras in Hermanus en by die dorp se ingange wat voertuie se registrasienommers identifiseer, het egter volgens bronne geen teken van die twee voertuie gekry nie.

Daar is egter glo leidrade op kameras elders in die omgewing gekry.

Dokters het Dinsdag probeer om ’n koeël wat in Solomon sr. se heup vassit, te verwyder.

Charlies Café & Take Aways waar daar op Ernie “Lastag” Solomon en sy seun, Carlo, geskiet is. Jonathan “Blikke” Thomas (42) is doodgeskiet. Foto: Hermanus Times

Carlo was ook onder die mes vir ’n koeël in sy arm.

Carlo Solomon

’n Bron bekend met die Kaapse onderwêreld het Dinsdag gesê as Ernie Solomon oorleef, is daar groot moeilikheid vir die mense agter die aanval. “Daar gaan letterlik oorlog wees.”

Bronne het Maandag kort ná die aanval gesê dit kan verband hou met die mislukte sluipmoordaanval in Maart vanjaar op Horatio “Voudie” Solomon (30).

Horatio is die vermeende leier van die Terrible Josters in Elsiesrivier, Delft, Wesbank en Kleinmond.

Horatio se 13-jarige dogter is ernstig gewond in die aanval en is die volgende dag in die hospitaal dood.

Daar is toe al beweer dat die aanval op Horatio deur Ernie, sy oom, beplan is.

Mense het destyds gesê Horatio gaan nie dié aanval en sy kind se dood net daar laat nie. Daar is toe gesê hy gaan sy dogter se “bloed optel”.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek die omstandighede waarin ’n 42-jarige man doodgeskiet is en twee ander mans, 62 en 36, gewond is.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Daar is wel gesê dat die Wes-Kaapse bende-eenheid die voorval ondersoek.

Meer oor:  Terrible Josters  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.