Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bendes kaap kinders se park

Soos sonverbleikte beendere van ’n walvis lê die eens spoggerige pretpark van die Seawinds-buurt naby Lavender Hill daar: gestroop van metaal, rubber, hout en kabels.

Die eens spoggerige pretpark vir die Seawinds-buurt, naby Lavender Hill . . .Foto: Stad Kaapstad

Dié sogenaamde slimpark, wat belastingbetalers R7,6 miljoen gekos het en op Erfenisdag in September 2017 geopen het, is een van ses wat die Kaapstad-munisipaliteit tot dusver gebou het. Daar is soortgelyke parke in Atlantis, Nomzamo naby die Strand, Delft, Khayelitsha and Guguletu.

Seawinds s’n het gespog met ’n skaatsbaan, ’n sokkerveld, aktiwiteite om meer van die watersiklus te leer, sintetiese bane vir balspeletjies en swaaie. Maar dis alles tot niet.

Toe Rapport die park verlede Woensdag besoek het, het dit gelyk asof ’n orkaan alles bo die grond bloot weggevee het. Van die metaalheining het net metaalstompies oorgebly. Die sinte­tiese materiaal is uitgebrand, die houtklimraam afgesaag en die swaaie is weg.

“Soos ons nou hier stap, hulle watch ons."

’n Beampte blameer die bendes wat hier bedrywig is. Kinders is te bang om die park te gebruik, die sekuriteitswagte is weggejaag en met die dood gedreig. Boonop was hier verlede jaar ’n protesoptog deur inwoners van die Vrygrond-plakkerskamp. Die klubhuis is besteel, met petrolbomme bestook en toé beskadig.

Kabels en plastiekpype is uit die grond geruk, die heining is afgesaag en die sekuriteitswagte se hokkie afgebreek.

“In Julie-Augustus verlede jaar was die park ’n no go – toe skiet die gangsters! Toe die vandalisme. Die artificial grass uitgebrand,” sê ’n amptenaar moedeloos.

. . . . is nou gestroop en verniel. Foto: Stad Kaapstad

’n Beampte sê half onderlangs, verwysend na die bendes: “Soos ons nou hier stap, hulle watch ons. Moenie verbaas wees as ’n stray bullet kom nie.”

James Kingdam is ’n inwoner en ’n EFF-lid. Hy sê die probleem is dat die politici die park gebruik het om goed te lyk. Dit het die gemeenskap die gevoel van eienaarskap van die park ontneem. “Dít is wat hulle gescore het,” sê hy en wys na die vernielde park.

Geraldine Gordon, die plaaslike raadslid, sê daar was uitgebreide openbare deelname voor die besluit om die park hier op te rig. Haar gesig is stroef, maar sy klink positief.

“Nege informele nedersettings is genooi. Die ontwerp is voorgelê en aanvaar. Die mense was in hul noppies, die park was ’n buitengewone fasiliteit. Topklas.”

Nou moet ’n nuwe plan gemaak word. Die bendes bly die probleem. Net in die afgelope maande was hier 83 sterftes.

“Ons sit steeds met dieselfde dinamika. Dít is die realiteit.”

Volgens dr. Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid in Kaapstad, lê misdaad en geweld alle sekuriteitsmaatreëls aan bande.

In minstens twee van die ander vyf pretparke, naamlik Atlantis en Nomzamo in die Strand, gaan dit ewe beroerd, sê Badroodien.

Hier vier vandalisme, diefstal van toerusting, misdaad en die onwettige toegang van voertuie asook onwettige drinkery en dwelmmisbruik ook hoogty.

Meer oor:  Seawinds  |  Pretpark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.