Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bendes ‘kan só staat se gesag ondermyn’

Bendes en die gepaardgaande georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte, in die noordelike voorstede van Port Elizabeth én Westbury in Johannesburg móét beslissend gepak word, anders kan dit die gesag van die staat ondermyn.

Zizi Kodwa Foto: Elizabeth Sekake

Daarom werk spioene van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) saam met die polisie en weermag se onderskeie intelligensiedienste in die gesamentlike operasie wat tans op die Kaapse Vlakte in Kaapstad van stapel gestuur is om bende- en dwelmverwante misdaad daar stop te sit, sê Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid.

Hy het dit Donderdag by die parlement gesê kort voordat Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, haar departement se begrotingsrede gelewer het.

Volgens Kodwa speel die SVA ’n baie belangrike rol in bogenoemde operasie as deel van die regering se geïntegreerde benadering teen bendes.

“Alles is om te verseker dat ons bendes doeltreffend bestry. Ons werk saam met die intelligensiedienste van die weermag en die polisie in hierdie verband. As ons dit nie doen nie, kan dit die gesag van die staat ondermyn.

“Ons het na die klagtes van die mense geluister, nie net in die Wes-Kaap nie, maar ook in die noordelike gebiede van Port Elizabeth en in Westbury, Johannesburg. Ons moet dit beslissend pak.”

Loyiso Jafta, waarnemende direkteur-generaal van die departement, het bygevoeg dat bendes en georganiseerde misdaad ook die strukture van die staat kan vervang soos wat die bendes gemeenskappe van hulle afhanklik maak.

“As ’n mens die bendebedrywighede toelaat om verder te gedy, kan dit begin om die wetstoepassingsagentskappe, die regbank en die parlement te korrupteer, en voor jy weet bevind ons ons in ’n algehele Narco-staat wat baie moeilik omgekeer kan word. Daarom hou bendes en georganiseerde misdaad nie ’n klein bedreiging in nie,” het Jafta gesê.

Intussen het Dlodlo in haar begrotingsrede in die Nasionale Vergadering gesê dat die hoë vlakke van werkloosheid, veral onder jeugdiges, sowel as die stagnante en nie- inklusiewe ekonomie, ’n massiewe veiligheidsbedreiging vir die land inhou.

Intelligensie is ’n professie wat ’n kaliber van lede vereis wat professioneel optree en vry is van politieke en institusionele faksionalisme en manipulasie.
Ayanda Dlodlo

“Daarom het ons dít, sowel as kubersekuriteit, streeksinvloed, die bestryding van internasionale terreur, plaaslike politieke stabiliteit en ekonomiese ontwikkeling as ons heel belangrikste prioriteite geïdentifiseer.”

Om dit te bereik moet daar volgens haar eers weer formidabele instellings in die intelligensiegemeenskap gebou word wat professioneel, geloofwaardig en betroubaar is en wat ’n diens vir die mense van Suid-Afrika kan bied.

“Intelligensie is ’n professie wat ’n kaliber van lede vereis wat professioneel optree en vry is van politieke en institusionele faksionalisme en manipulasie.”

Volgens Dlodlo moet SVA-lede die Grondwet en kode van etiek vir spioene nakom.

“Een van ons sleutelprioriteite is ook om die beeld van die SVA te herbou wat aansienlike skade in die onlangse verlede gely het.”

Dlodlo het daarby die versekering gegee dat haar departement die aanbevelings van die hoëvlak-hersieningspaneel oor hoe die SVA reggeruk moet word, weens die aard en omvang daarvan op kort, medium- en lang termyn sal implementeer.

Vroeër is berig hoe dié paneel, onder leiding van oudminister Sydney Mufamadi, in sy verslag wat vroeër vanjaar uitgereik is, onder meer bevind het dat die SVA verrot is, hom onder Jacob Zuma se presidentskap deur ANC-leiers vir politieke spioenasie en manipulasie laat kaap het, en dat miljoene rande straffeloos verduister is.

Meer oor:  Zizi Kodwa  |  Port Elizabeth  |  Kaapse Vlakte  |  Staat  |  Bendegeweld  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.