Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Bendes raak érger’

Gemeenskappe op die Kaapse Vlakte weet nie meer watter kant toe nie – in plaas van vrede, het die nuwe bende-eenheid se koms net meer sterftes gebring, skryf Julian Jansen.

Jong mans op die hoek van Elsieskraal- en Gonubie-straat in Manenberg, waar vier mense in bendeverwante skietery gesterf het. Foto’s: Edrea du Toit

Dawn Pieters se 17-jarige seun, Trevor, is twee weke gelede by ’n kafee op die hoek van Gonubie- en Elsieskraalstraat in Delft doodgeskiet.

“Hy het tjips en ’n drink by die café gaan koop toe ses jongens met goeters oor hul gesigte in die donker verbystap en hom in die kop geskiet het,” vertel sy.

Trevor Pieters is net een in ’n nimmereindigende lys van slagoffers van Kaapse bendegeweld wat besig is om totaal en al hand uit te ruk. Net verlede week het 22 mense op dié manier in Delft gesterf.

Sedert Januarie is 38 mense in Bonteheuwel vermoor en 20 in Manenberg, sê Angus McKenzie, die DA-raadslid vir Bonteheuwel. Die Strand het 21 verloor.

‘Ons gaan dikhou, tot julle ophou!’

Terwyl Rapport se span by die kafee staan waar Trevor geskiet is, kom ’n meisie aangehuppel. “My ma is ook hier geskiet,” sê sy.

Kader Jacobs, voorsitter van die Manenberg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die gemeenskap weet nie meer watter kant toe nie.

Hy sê die ironie is dat die nuwe gespesialiseerde bende-eenheid wat in November gestig is, dinge net erger gemaak het.

“Hulle het die elite weggevat van polisiestasies. Wie bly oor? Bendes raak brazen, met die koms van die gang unit en die gevolglike minder polisielede by die polisiekantore het die bendes teruggestaan en strategie verander.”

Kader Jacobs, GPF-voorsitter, en Shamiela Edwards, voorsitter: Manenberg-sakeforum.

Jacobs sê die bende-eenheid is gedurig aan die beweeg. Die bendes sien dit en verander daarom ook hul strategie.

Hy sê bendes beweeg ook nou rond. “Dis asof hulle hulself franchise. Ons vind nou dat die skieters wildvreemdes is, anderdag het jy hulle geken, dit was daai antie of daai ma se kind, hulle was kinders van die buurt. Nou nie meer nie.

Hy sê in Januarie was Manenberg nog stil, maar in Maart het die skietery hoogty gevier.

“Bendes het die beste lawyers. As een gevang word, kom nie die prokureur in nie, dis advokate wat by die polisiekantoor opdaag.”

Hy sê daar is “baie tegniese goedjies” waarop hulle loskom.

“Ons kort gespesialiseerde howe, wat ook snags sit. Net vir gangsters. Ons kort ’n holistiese benadering. Ons moet die sirkel van bendes breek. Baie van die bendebedrywighede word vanuit die tronke per selfoon bestuur.”

’n Protesoptog in Manenberg. Foto: Abdul-Karriem Adams

Hy sê daar is tans twee “gevegsfronte” in die laevlak-oorlog. “Die eerste is vir die recruitment van lede uit die opposisie. Tweede ’n magstryd. Ons hier in Manenberg is in die spervuur.

Volgens Shamiela Edwards, voorsitter van die Manenberg-sakeforum, hou hulle, in samewerking met godsdiensleiers, daagliks protesoptogte en nagwake. Die teiken is bekende “bendestrate” soos Gonubie, Groot Vis, Gouritz, Gamka, Letaba en Elsieskraal.

“Ons gaan dikhou, tot julle ophou!” is die slagspreuk wat saans hier opklink.

In die Strand, sowat 50 km van Manenberg, het ’n groep vroue in die bendegeteisterde Broadlands Park uit desperaatheid die Vroue in Aksie-beweging gestig. Hul voorsitter, Zorah Motasi, sê hulle moes optree ná ’n “100% toename” in die bendeoorlog tussen die plaaslike S.O.S-bende en die splintergroepe, die JCY, die Skombizoz en die Terribles.

“Jong seuns loop met vuurwapens in die strate. Dis kinders wat ons ken. Ons het samesprekings met die bendeleiers, vir hulle gesê as hulle gevang word, moet hulle die gevolge dra, hulle moet vrede sluit.

“Vir ’n tyd was dit stil. Einde Maart, toe begin dit net weer, die skietery. Dit gaan oor afsetgebiede vir dwelms, hul ego’s, oor weerwraak.

“Die polisie se reaksietyd is uiters swak. Ons soek ’n basiskamp hiér.”

Meer oor:  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.