Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bendes skiet op bussie: ‘Gaan nie goed’ met meisie (6)

Dit gaan nie goed met Robinesia Joko (6) wat Maandag in ’n skoolbussie in die kop geskiet is nie, het haar tannie, Desiree Judde, Woensdag gesê.

Robinesia is die middag gewond toe bendes in Avianpark in Worcester geskiet het op die Hyundai-minibus waarin sy en van haar skoolmaats was. Die kinders gaan in Riverview in die dorp skool.

Judde het gesê een van die kinders het in ’n verklaring aan die polisie gesê bendelede het hul bussie voorgekeer.

Robinesia Joko is Maandag in Worcester deur bendes in haar kop geskiet. Foto: Verskaf

“Die man wat hulle gestop het, het glo geld by die kinders en die bestuurder gesoek. Hulle het gesê hulle het nie geld nie, waarop hy glo vir hulle gesê het dat hulle nie eers bang is dat hulle vrekgeskiet sal word nie.”

Sy sê die bestuurder het toe weggery, waarna op die voertuig geskiet is en een van die koeëls Robinesia in die kop getref het.

Sy is kort ná die voorval met ’n helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad geneem, waar die koeël in ’n operasie verwyder is.

Volgens Judde het die dokters haar ouers meegedeel dat haar brein nog baie geswel is en daar nog baie bloeding is.

“Dinge lyk nie goed nie, maar die dokters het gesê wonderwerke kan nog altyd gebeur. My suster en swaer is baie emosioneel. Robinesia is hul jongste kind. Hulle is tans by haar.”

Volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, is vier vermeende bendelede, glo almal van die Uitbyters, Maandag in hegtenis geneem is.

Een van die vermeende bendelede is glo ’n 29-jarige voormalige polisielid wat na bewering op die polisie geskiet het toe hulle die voorval ondersoek het.

Van Wyk sê die voorval het Maandag omstreeks 15:30 in Avianpark gebeur. Die polisie het op ’n klag van bendegeweld tussen die JCY’s en die Uitbyters gereageer toe op hulle geskiet is.

Volgens Van Wyk sal die mans op aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die rig van ’n vuurwapen in die landdroshof in Worcester verskyn.

Een van die mans is glo ook met ’n tuisgemaakte vuurwapen in sy besit aangekeer.

Meer oor:  Worcester  |  Bendeskietery  |  Kritieke Toestand  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.