Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Benoni-moord: ‘Hoekom het jy my kind so seergemaak?’

“Jou bliksem, wat het jou besiel om my kind so seer te maak?”

Dít is wat Suzette Barnard, ma van die vermoorde Chantelle Barnard (20), aan haar vermeende moordenaar, Jurg Vandekeere (41), sou vra as sy hom Donderdag kon sien.

Chantelle Barnard (20) is in April 2011 op ’n hoewe in Benoni vermoor.

Vandekeere was sedert 2013 voortvlugtig nadat hy in die hooggeregshof in Johannesburg borgtog toegestaan is.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê Vandekeere het Woensdagmiddag homself aan die polisie in Benoni oorgegee.

Barnard sê Vandekeere se pa, Roland, wat in Benoni bly, en ’n prokureur was saam met hom toe hy homself oorgegee het.

“Dit voel nog te goed om waar te wees dat hy weer agter tralies is. My kind was so mooi van binne en buite,” het Barnard Donderdag gesê.

Peters kon nie sê waar Vandekeere was voordat hy homself aan die polisie oorgegee het nie.

Chantelle is in 2011 vermoor op ’n hoewe in Benoni waarvan Vandekeere die opsigter was.

“Ek dink die lewe moes vir hom te warm geraak het (sic) waar hy ook al geskuil het,” sê Barnard.

Chantelle Barnard (20), ’n skoonheidsterapeut, is op 1 April 2011 op ’n hoewe in Benoni aan die Gautengse Oos-Rand vermoor.Foto: Facebook/Chantelle Barnard

Vandekeere het Donderdag vlugtig in die hooggeregshof in Pretoria verskyn op aanklagte van moord, verkragting en ’n aanklag omdat hy gevlug het terwyl hy op borgtog uit was. Hy word in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria aangehou en sal 27 Maart weer in die hooggeregshof in die stad verskyn.

“Ek gaan beslis daardie dag in die hof wees. Ek wil hê al Chantelle se vriende moet ook daar wees,” het Barnard Donderdag gesê.

Jurgen Vandekeere by een van sy vorige hofverskynings. Foto: Lerato Maduna

Mike Bolhuis, ’n privaat ondersoeker van Pretoria, wat die Barnards gehelp het om na Vandekeere te soek, sê “die strop het te nou om hom begin trek”.

Barnard het verlede jaar haar hart geopenbaar oor die moord op haar dogter vir die TV-reeks Huisgenoot: Ware lewensdramas, wat op Via (kanaal 147 op DStv) uitgesaai word.

Chantelle is op 1 April 2011 vermoor toe sy na die hoewe in Benoni is waar Vandekeere die opsigter was. Sy en haar kêrel, Brandon Ackerman, het in ’n woonstel op die hoewe gebly en het kort tevore uitgetrek. Sy is op die dag van haar moord soontoe om sleutels te gaan afgee.

Niemand het haar weer gesien of van haar gehoor nie.

Barnard is later die dag self na die hoewe toe waar sy die aand op haar dogter se naakte lyk op die vloer van ’n huis op die hoewe afgekom het. Sy is vermoedelik vir ure gemartel, glo verkrag en toe met ’n mes in haar bors gesteek. Sy het ook ’n diep snywond aan haar nek gehad.

Daar was egter nie ’n druppel bloed aan haar nie en die polisie vermoed sy is gewas nadat sy dood is. ’n Stuk lap was oor ’n deel van haar lyk gedrapeer, daar was vroueonderklere langs haar gestrooi en ’n grimeersakkie is naby haar skoongewaste lyk gekry.

Vandekeere is dieselfde aand in hegtenis geneem en het skuld ontken. Hy het voordat hy gevlug het ’n brief aan sy pa geskryf waarin hy gesê het: “Na my laaste vergadering met die advokate wat gesê het ek kyk na ’n minimum 25 jaar of lewenslank vir ’n misdaad wat ek nie gepleeg of gedoen het nie. (sic) Ek is regtig jammer ek moes weggaan.”

Felix Dlangamandla, ’n senior fotograaf van Netwerk24, het Vandekeere in 2013 op die lughawe in Maputo, Mosambiek, gesien. ’n Foto van hom is na ’n staatsaanklaer gestuur en Interpol is in kennis gestel dat hy gesien is waar hy glo ’n vliegtuig na Kenia sou neem. Hy het egter weer soos ’n groot speld verdwyn.

Meer oor:  Jurgen Vandekeere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.