Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Beseerde ma nog deurmekaar ná klip haar by Plet tref
Haydee de Doncker
Haydee de Doncker Foto: Verskaf

Haar kakebeen en linkeroogbank is gebreek en sy het ernstige kopbeserings opgedoen, sê Erin Burns oor haar ma, Haydee de Doncker (56), wat in die oproer in Plettenbergbaai beseer is.

De Doncker van Port Elizabeth, wat deur ’n klip teen die kop getref is, en haar man, Keith, se motor is Woensdag glo soos die res van die verkeer weens die protesoptrede herlei toe die voorval gebeur het.

Sy is tans in die waaksaal in die Mediclinic George.

Volgens Burns was haar ouers Woensdag vanaf Gouritsmond – waar hulle ’n verjaardagpartytjie bygewoon het – op pad terug huis toe.

Sers. Chris Spies, ’n polisiewoordvoerder, sê die voorval het om 14:10 op die N2 by die Piesangvallei-afdraai in Plettenbergbaai gebeur.

Volgens Burns het haar pa die klip – wat aan die bestuurskant deur die venster gegooi is – met sy arm probeer keer, maar dit het haar ma teen die kop getref. Foto’s wat ’n familielid op Facebook geplaas het, wys die klip wat onder die motor se sitplek aan die passasierskant te lande gekom het.

Sy sê haar ouers is onder polisiebegeleiding na ’n hospitaal in Plettenbergbaai geneem, en haar ma is van daar na George oorgeplaas.

Die klip, wat Haydee de Doncker, Woensdag getref het, op die vloer van die motor. Foto: Verskaf

“Die dokter is nog nie seker of haar oog beskadig is nie want die swelling moet nog sak. Hy sê dit sal meer skade veroorsaak om die oog nou oop te maak.”

Sy sê die voorval is sinloos, ontstellend en onnodig. “Ons is baie geskok oor die voorval.”

Haar ma is nog deurmekaar en gedisoriënteerd, en hulle is nie seker wanneer sy uit die waaksaal geskuif sal word nie. “Ons hoop dat sy na ’n hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas kan word,” sê Burns.

Volgens Spies ondersoek die polisie ’n saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die Bitou-munisipaliteit het nie op navrae gereageer nie.

*Die protesoptrede het verlede Dinsdag in die omgewing van die N2 in Plettenbergbaai uitgebreek. Die pad is Saterdag weer vir die verkeer oopgestel.

Volgens die polisie is 81 mense op verskeie aanklagte in hegtenis geneem.

Meer oor:  Plettenbergbaai  |  Oproer  |  Besering  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.