Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Besering aan kind se maag toe ’n skietwond

Wat ouers geglo het ’n gewone besering aan hul sesjarige dogtertjie se maag was, is toe deur dokters as ’n skietwond bevestig.

Die skoknuus is Donderdagaand aan Nicoleen Prins by ’n plaaslike hospitaal in Port Elizabeth oorgedra.

Haar dogter, Areté, is vermoedelik vroeër die aand deur ’n bendelid se dwaalkoeël getref.

Die skietvoorval het omstreeks 19:15 in Kobusweg in die bendegeteisterde Gelvandale gebeur. Areté het enkele meters verder in ’n systraat gestap nadat sy lekkers by ’n hoekhuiswinkel gekoop het.

Lorenzo Nicholas (27) is in die voorval deur ’n onbekende man verskeie keer geskiet en op die toneel dood, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

Die wond aan haar maag het gebloei. Maar ons het vermoed sy het die wond opgedoen terwyl sy geval en mense op haar getrap het.

Prins, wat later daardie aand van die werk by die huis aangekom het, sê sy het gehoor van die skietery en hoe omstanders haar dogter omgestamp en getrap het terwyl hulle van die koeëls probeer vlug het.

“Die wond aan haar maag het gebloei. Maar ons het vermoed sy het die wond opgedoen terwyl sy geval en mense op haar getrap het,” sê Prins.

Toe die bloed nie wil stol nie, het sy haar dogter hospitaal toe geneem, waar ’n X-straal die skoknuus bevestig het dat sy raakgeskiet is en die koeël nog in haar maag vassit.

“Ek kan nie beskryf hoe groot die skok was nie. Ek was nie die soort nuus te wagte nie. ’n Duisend vrae gaan dan deur jou kop.”

Die dokter het glo gesê hulle sal nie onmiddellik kan opereer nie en verdere toetse en skanderings moet eers gedoen word.

“Ons behoort Maandag ’n beter idee te hê van wat die pad vorentoe is.

“Op die oomblik is ek net baie bekommerd oor die soort impak wat die voorval op my kind se lewe gaan hê.”

Sy beskryf Areté as ’n kind vol lewenslus, maar sê sy het sedert die voorval nog nie weer gepraat nie.

“My kind is nie haarself nie. Ek glo sy is ook nog in skok, maar ek hoop dit sal verbygaan.”

Prins sê sy wag nou gretig op die polisie om “die goeie nuus” met haar te deel dat iemand vir haar kind se amperse skietdood agter tralies is.

Naidu het egter Sondag bevestig die polisie is steeds na die skieter opsoek.

Sy het bevestig ’n saak van poging tot moord word nou saam met Nicholas se moord ondersoek.

Intussen het nóg ’n skietvoorval in die stad se bendegeteisterde noordelike voorstede nóg ’n lewe geëis.

In dié onverwante skietvoorval Saterdagaand is Susan Afrika (51) omstreeks 20:50 by haar huis in Booysensparkweg doodgeskiet.

Naidu sê Afrika en nog drie ander mense het op die stoep van hul huis gesit toe ’n onbekende man hulle vanuit die straat benader.

“Die onbekende man het skielik ’n vuurwapen in hul rigting gerig en losgebrand,” sê Naidu.

Die groep het opgespring en by die huis probeer inhardloop, maar Afrika is noodlottig deur haar rug geskiet.

’n 22-jarige man is ook verskeie raakgeskiet, maar het die aanval oorleef.

Volgens Naidu is die motief vir die aanval nog onbekend en niemand is onmiddellik in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Skietwond  |  Bendegeweld  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.