Die polisie ondersoek ’n saak van moord nadat die bestuurder van ’n minibustaxi Saterdag glo opsetlik in die vroeë oggendure ’n man van Kaapstad doodgery het.
Yusuf Juries (39) is Saterdag ingevolge die Moslem-geloof begrawe, nadat hy in Bonteheuwel doodgery is.

Yusuf Juries Foto: Euston Juries Yusuf/ Facebook
Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting het Juries op die toneel aan sy beserings beswyk, nadat ’n minibustaxi omstreeks 03:30 in Rooihoutstraat oor hom gery het. Die verdagtes is nog onbekend en nog nie aangekeer nie.
Angus McKenzie, Bonteheuwel se DA-raadslid, sê daar word geglo dat mense klippe op die N2 gegooi het en Juries verkeerdelik vir een van die boosdoeners aangesien is. Die taxi het glo van die N2 na Bonteheuwel afgedraai.
“Hulle het hom nooit gestamp nie, hulle het ’n paar keer oor hom gery en is toe weg.”
McKenzie sê dit is nou belangrik dat mense met enige inligting na vore kom.
“Wat ongelukkig in dié gevalle gebeur, is dat daar nooit enige geregtigheid is nie.
“Hy was ’n onskuldige persoon. Daar moet een of ander vorm van geregtigheid vir die moord wees.”
*Netwerk24 kon nog nie met Juries se familie in kontak kom nie.