Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bestuurder vas wat 42 skoolkinders met taxi vervoer

Verkeersbeamptes van Kaapstad het Dinsdagoggend ’n taxibestuurder naby Delft in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur nadat hy 42 laerskoolkinders in die minibus vervoer het wat vir 16 mense bedoel is.

Een van die gladde bande van die minibustaxi wat Dinsdag voorgekeer is.

“Verkeersbeamptes het opgemerk dat die taxi baie vinnig ry, tussen voertuie deur vleg en ander voertuie op sperstrepe verbysteek,” sê Richard Coleman, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdiens Dinsdag in ’n verklaring.

“Die bestuurder het ook probeer om ’n voertuigbeheerpunt te ontduik. Hy is toe later op die hoek van Symphony-weg en Stellenbosch Arterial voorgekeer.”

Daar het beamptes gesien dat die voertuig erg oorlaai is, onpadwaardig is en dat die bestuurder ses onbetaalde boetes van ongeveer R20 000 het. Daar is ook lasbriewe vir sy inhegtenisneming uitgereik.

Coleman sê die laerskoolleerlinge is deur ander voertuie na hul skole vervoer.

“Dié voorval is byna dieselfde as ’n ander voorval van Maandag waar nog ’n taxibestuurder in hegtenis geneem is vir roekelose en nalatige bestuur op die N1,” sê Coleman.

“Dié bestuurder het 22 laerskoolleerlinge in sy voertuig gehad. Die bestuurder het geen lisensie of permit gehad nie en het vier uitstaande boetes ter waarde van R11 400 teen hom. Daar is ook lasbriewe vir sy inhegtenisneming uitgereik.”

Vroeër vanjaar het verkeersbeamptes in Port Elizabeth tot 47 kinders in een taxi gevind. Dié 26-jarige bestuurder is ook onmiddellik in hegtenis geneem. 

Nog ’n gladde band van die taxi.

Coleman sê dié gedrag is uiters kommerwekkend en die verkeersdiens doen ’n beroep op bestuurders om die lewens van hul jong passasiers, maar ook ander padgebruikers, in ag te neem.

“Ons vra ook dat ouers waaksaam moet wees oor hul kinders se vervoerreëlings skool toe en terug.”

Ouers kan enige besorgdheid by die Kaapstadse verkeersdiens aanmeld deur 021 480 7700 te skakel.

Meer oor:  Richard Coleman  |  Kaapstad  |  Bestuurder  |  Skoolkinders  |  Taxi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.