Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Betogers uiteen nadat Cele glo belowe hy sal na PE kom

Net die belofte dat Bheki Cele, minister van polisie, Port Elizabeth se bendegeteisterde gebied sal besoek, was genoeg om ’n skare woedende betogers Woensdag te paai.

Gemeenskapslede van Booysenspark en Chatty in Port Elizabeth betoog Woensdagoggend teen die voortslepende bendegeweld in die gebied. Foto: Lulama Zenzile

’n Groep van sowat 1 000 mense het die oggend paaie in en rondom Booysenspark en Chatty in die stad se noordelike voorstede met brandende buitebande versper en motoriste met klippe bestook.

Inwoners is ontstoke omdat Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, Dinsdag met sy besoek aan Bethelsdorp gesê het die weermag se ingryping is vir eers nie nodig in dié bendegeteisterde gebied nie.

Terwyl die polisie se eenheid vir openbare orde inwoners met rubberkoeëls en traanrook uiteengejaag het en selfs die polisie onder die klippe gesteek is, het ’n groep gemeenskapsleiers by die Bethelsdorp-polisiekantoor vergader.

Volgens Timothy Hendricks, voorsitter van die Mountweg-polisiegebied se gemeenskapspolisiëringsforum, het hy Cele tydens die verdaging gebel om die inwoners se griewe aan hom oor te dra.

“Ek het gebel en ek glo die minister het besef hier is probleme en ontevredenheid oor onder meer beloftes wat gemaak is oor ’n nuwe polisiekantoor. Die inwoners is ongelukkig omdat hulle geen terugvoering oor die vordering kry nie.

“Die probleem is ook dat ander departemente nie juis belangstelling toon nie en aanvoer die bou van die polisiekantoor is die polisie se probleem.”

Hy sê Cele het ná afloop van hul gesprek beloof om Booysenspark ná 23 Julie te besoek.

Betogers luister na ’n boodskap deur die gemeenskapsleier in Booysenspark. Foto: Lulama Zenzile

Nadat Luvuyo Nomnqa, wat homself as ’n gemeenskapsleier voorgestel het, dié nuus aan die betogers oorgedra het, is hulle uiteen.

Hy sê Cele het in Desember ’n nuwe polisiekantoor belowe. Volgens Cele sou ’n tweede polisiekantoor vir die gebied binne tien maande opgerig word.

Nomnqa sê die plaaslike polisie is te dun gesaai en hy glo van hulle is selfs op die betaallys van die bendes.

“Inwoners leef in vrees, die skote klap elke dag. Die (Booysenspark-) kliniek sluit gereeld wanneer dit te gevaarlik is, kinders word op pad skool toe beroof – niemand is meer veilig nie,” sê Nomnqa.

Polisiebeamptes skiet met rubberkoeëls op betogers wat hulle met klippe bestook. Foto: Lulama Zenzile
’n Betoger maak gereed om ’n klip in die rigting van die polisie te slinger in Woensdag se betoging. Foto: Lulama Zenzile

Volgens hom is vier mense die afgelope twee weke in die gebied vermoor.

Montambi John, ’n inwoner van Chatty, sê Mabuyane dink die weermag se ingryping hier is onnodig omdat hy en ander politici net by Bethelsdorp vassteek en nie die ander gebiede besoek nie.

“Ons is ook deel van die noordelike gebied. Hier is bendegeweld net so erg. Ons benodig dringend ons eie polisiekantoor. Die polisie ken die misdaadsyfers van bendes en dwelms, maar steeds word daar gesloer met die bou van ’n nuwe polisiekantoor.”

Reneilwe Serero, Cele se woordvoerder, het nie onmiddellik op navrae oor Cele se besoek gereageer nie.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Port Elizabeth  |  Betogers  |  Bendes  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.