Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Beweerde messteker soek ná aanval op pasiënt

Die polisie in die Oos-Kaap soek steeds na die aanvaller wat ’n man in ’n hospitaal se ongevalle-afdeling doodgesteek het.

Die oorledene (28) is Sondag in die vroeë oggendure met ’n meswond aan sy bors in die All Saints-hospitaal in Ngcobo opgeneem.

Die aanvaller het omstreeks 03:00 met ’n mes in sy hand by die hospitaalkamer ingebars en blykbaar aangevoer hy is daar om die “werk klaar te maak”, voordat hy die slagoffer doodgesteek het.

Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die Oos-Kaap se gesondheidsdepartement, sê ondanks die tien veiligheidswagte wat by verskeie punte van die hospitaal geplaas is, het die aanvaller sy pad tot in die hospitaal oopgedwing deur mense met die mes te dreig.

“Die dokter en verpleegsters het vir hul lewe gevlug, terwyl veiligheidswagte nie die man kon keer om die pasiënt dood te steek het nie,” het Kupelo gesê.

Die aanvaller het glo weggehardloop voordat die polisie op die toneel aangekom het.

Kapt. Namhla Mdleleni, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag gesê die polisie volg alle leidrade op, maar niemand is tot dusver vir die moord in hegtenis geneem nie.

Die naam van die oorledene is nog nie bekend gemaak nie.

Hospitaalpersoneel wat Sondag tydens die aanval teenwoordig was, sal by die Nelson Mandela- akademiese hospitaal traumaberading ondergaan, het Kupelo gesê.

Die hospitaal se veiligheidsmaatreëls word ook hersien, maar Kupelo sê hospitale sal steeds vuurwapenvrye gebiede wees, selfs al word private veiligheidswagte gebruik.

“Ons geriewe word oënskynlik geteiken omdat misdadigers weet hospitale en klinieke is vuurwapenvrye gebiede. Wetteloosheid kan egter nie geduld word nie. Daarom doen ons ’n beroep op die regstelsel om die swaarste vonnisse op te lê vir diegene wat hospitale en klinieke teiken,” het Kupelo gesê.

Mdleleni het die gemeenskap aangemoedig om enige inligting rakende die moord by die polisie by 082 302 7484 aan te meld.

* In ’n onverwante voorval Vrydag het ’n oplettende veiligheidswag by die provinsiale hospitaal in Uitenhage ’n moontlike skietvoorval binne die hospitaal voorkom.

Volgens Kupelo het die veiligheidswag ’n gewapende pasiënt oorrompel en die vuurwapen afgevat wat hy glo by ’n polisiebeampte gesteel het.

Kupelo sê die pasiënt is vermoedelik geestelik versteurd.

“Die veiligheidswag wat die man gekeer het voor enige skote afgevuur is, verdien lof vir sy dapperheid en vinnige optrede,” het Kupelo gesê.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Misdaad  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.