Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bewerings dat 1 groep by aanvalle in Boland betrokke is

Ná ’n ernstige plaasaanval op die Wessels-gesin van Bonnievale op 13 Mei vanjaar is veiligheid op plase in die Wes-Kaap opnuut in die kollig.

Die vermoede het nou ontstaan dat ’n groep mans daarvoor verantwoordelik kan wees. Hoewel die polisie dit nie kan bevestig nie, glo verskeie dat ’n patroon in die aanvalle raakgesien kan word.

Dit is veral die burgerregteorganisasie AfriForum wat sê hy vermoed dat ’n groep mans wat verlede jaar in die Paarl- en Wellington-omgewings aktief was, nou weer die Boland teister.

“Die Boland gaan tans erg onder plaasaanvalle gebuk, en ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hul paraatheid op te skerp,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid in die suidstreek, in ’n verklaring.

Die organisasie sê hy is bewus van vier “plaasaanvalle” in die Paarl-, Stellenbosch- en De Doorns-omgewing wat sedert verlede Vrydag in die Wes-Kaap aangemeld is.

Die organisasie sê hy is bewus van vier “plaasaanvalle” in die Paarl-, Stellenbosch- en De Doorns-omgewing wat sedert verlede Vrydag in die Wes-Kaap aangemeld is.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê alle moontlikhede word ondersoek en die polisie volg leidrade op.

Volgens AfriForum het twee aanvalle onlangs in die Paarl-omgewing plaasgevind, albei op wynplase. Volgens berigte het vier mans Donderdagaand omstreeks 20:30 by ’n oop venster van ’n bestuurder se huis op ’n plaas buite die Paarl ingeklim, die man en vrou vasgebind en wapens, kontant en juweliersware geëis.

“Hulle het gevlug met selfone, juweliersware, ’n beursie en ’n TV-stel,” sê Van Wyk. “Die twee is ongedeerd en het daarin geslaag om hulself te bevry nadat die verdagtes van die toneel gevlug het.” 

Speurders volg alle leidrade op, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die ander aanval wat in die Paarl aangemeld is, het volgens Van Zyl verlede Maandag gebeur.

Die eienaar van ’n prominente wynplaas is deur vier mans oorrompel toe hy by die huis kom nadat hy die restaurant op die plaas gesluit het. Juweliersware is gesteel, maar niemand is ernstig beseer nie.

’n Derde voorval waarna Van Zyl verwys, word deur die polisie as ’n rooftog bestempel. Luidens ’n verklaring deur Van Wyk het rowers omstreeks 20:00 by ’n plaas naby Vlottenburg, Stellenbosch, ingebreek toe ’n polisielid hulle gewaar en agternasit.

Terwyl die polisiekonstabel Nceba Kolina (31) die verdagtes gejaag het, is hy van agter geskiet. Hy is op die toneel dood verklaar. Daar word vermoed dat hy deur ’n kollega of ’n lid van ’n private sekuriteitsmaatskappy geskiet is. Ballistiese toetse word nou gedoen.

Die verdagtes word nog gesoek en niemand is in hegtenis geneem in verband met die inbraak nie.

Van Zyl sê die vierde voorval het verlede Vrydag in De Doorns gebeur toe gewapende mans omstreeks 21:00 ’n bejaarde egpaar se woning binnegedring het.

Van Wyk sê die mans het geld en juweliersware geëis. Die man het hulle na die kluis geneem en kontant oorhandig.

“Die mans het met wyn, juweliersware en ’n selfoon op die vlug geslaan. Geen skote is afgevuur nie en geen beserings is aangemeld nie,” sê Van Wyk. Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Van Zyl sê die verdagtes in voorvalle soos die bogenoemde is gewoonlik in groepe van vier, en slaan toe net ná sononder tot ongeveer 21:30.

“Ons moedig mense aan, veral in afgeleë landelike gebiede, om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar en hulself te organiseer deur betrokke te raak by plaaswagte in hul gebied,” sê Van Zyl.

Nog inhegtenisnemings

Intussen het die polisie in die Wes-Kaap minstens 30 mense in hegtenis geneem in verband met ander voorvalle van huisroof en die onwettige besit van vuurwapens, en ook ’n rits ander klagte.

Ses mans is vroeg Saterdagoggend deur polisielede vasgetrek op die R60 by Worcester. Gereedskap wat gebruik word om by huise in te breek is in hul besit gevind.

Die mans is in hegtenis geneem en sal Maandag in die Worcester-landdroshof verskyn.

Van Wyk het in ’n ander verklaring gesê nege verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem en word verbind met voorvalle van huisbraak in die Lwandle-township in die Strand.

Sewe van die verdagtes, tussen die ouderdomme van 20 en 27, is by een adres in die Pholile-township in hegtenis geneem. Die polisie het die huis deurgesoek en een onwettige vuurwapen met ammunisie en ’n speelgoedgeweer gevind.

“Speurders is hard aan die werk om hierdie verdagtes te verbind met voorvalle van huisroof wat onlangs in Lwandle plaasgevind het,” sê Van Wyk.

Die polisie het ook tien verdagtes in hegtenis geneem in die Nyanga-township, asook drie in Cloetesville naby Stellenbosch, en ook twee in Athlone, vir onder meer moord, poging tot moord, huisbraak en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

Meer oor:  Boland  |  Stellenbosch  |  Plaasaanvalle  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.