Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bfn-sakeman vry, 5 vas wat glo R1 m. eis

’n Bloemfonteinse sakeman is Saterdagoggend gevind nadat hy byna twee weke gelede raaiselagtig verdwyn het.

Ontvoerders het R1 miljoen geëis as losprys vir die vrylating van die Bangladesjiese sakeman Shiaful Islam.

’n Familievriend, Cobus Venter, het Netwerk24 omstreeks 04:00 Saterdagoggend gebel met die nuus dat Islam gevind is.

Shiaful Islam (48), wat gevind is nadat ontvoerders op ’n losprys van R1 miljoen aangedring het.

Islam se vrou, Sonti, het later verheug gesê: “Die polisie het my man laasnag gekry nadat sy ontvoerders R1 miljoen van ons geëis het. Hulle wou alles wat ons besit, gehad het. Maar God is groot – die nagmerrie is uiteindelik verby.”

Islam het sedertdien nog net gerus, maar Sonti sê dat hy berading sal moet kry omdat hy erg getraumatiseer by die huis aangekom het.

“Sy ontvoerders het hom aangerand en gedreig om sy vingers af te sny. Hulle het hom regtig verskriklik verniel.”

Sy sê hul drie kinders, Solomon (8), Shakib (6) en Siaf (3), was ook oorstelp van vreugde om hul pa uiteindelik weer terug by die huis te hê.

“Maar ek vermoed die kinders sal ook berading moet kry. Hulle is ook erg getraumatiseer.”

Só slaan polisie toe

Die polisie het Islam Vrydagnag ná 13 dae in Springfontein in die Vrystaat gekry. Brig. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê vyf mense is in hegtenis geneem en sal so gou as moontlik in die hof verskyn. 

Venter het aan Netwerk24 gesê die polisie verdien ’n pluimpie omdat geen steen onaangeraak gelaat is om Islam te vind nie.

Dit was op dag 11 dat die ontvoerders Islam se broer, Halom, gebel en die losprys geëis het.

Die ontvoerders het die twee broers by tye vir kort rukkies met mekaar laat praat.

Die polisie is só na ’n selfoontoring in Springfontein gelei. Hulle kon aflei dat Islam in die omgewing aangehou word. 

Só ontvou die drama

Venter en 'n kennis, Bart Saaiman, het die Dinsdag nadat Islam verdwyn het, gereël dat daar met ’n private vliegtuig na hom aan weerskante van die pad tussen Dealesville en Bloemfontein gesoek word.

Die ligte vliegtuig wat vroeër ingespan is om na Shiaful Islam (48), ’n sakeman van Bloemfontein en Dealesville, te soek.

Die dorpe is 60 km van mekaar af.

Venter het Saterdagoggend familie en klante in Dealesville gaan haal sodat hulle met Islam en sy gesin kan kuier hul huis langs die Perseverance-kafee nadat hy gevind is.

Op die dag van sy verdwyning het hy voorraad van Bloemfontein na Dealesville gevat. ’n Werknemer, Kobus Venter, het agter hom aangery om ook voorraad te help aanry. Hulle het nie weer saam teruggery Bloemfontein toe nie. Venter het in Bloemfontein aangekom, maar Islam het toe net spoorloos verdwyn.

Sy familie was bekommerd toe hy nie die aand huis toe kom nie en het later sy bakkie verlate en ongesluit voor die Parkweg-polisiekantoor gekry.

Die wit Isuzu-bakkie wat voor die Parkweg-polisiekantoor gelos is.

Sy vrou het onmiddellik ’n saak van ’n vermiste persoon aangemeld.

Hy is 13 dae later gevind.


Meer oor:  Bloemfontein  |  Dealesville  |  Ontvoer  |  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.