’n Biddiens in die raadsaal van die Dr. JS Moroka-plaaslike munisipaliteit in Mpumalanga het Donderdag vinnig in chaos ontaard toe mense met pangas ingestorm en die burgemeester se veiligheid bedreig het.
Twee mans is sedertdien in hegtenis geneem.
Thulare Madileng, burgemeester, het vir sy lewe gevrees. Sy veiligheidswagte het hom vinnig verwyder.
Die groep mans en vroue het na hom gemik, het hy vertel.
“Hulle wou my leed aandoen terwyl ek en die pastore in die raadsaal vir vrede gebid het.
“Hulle het ook my ma beledig deur na haar privaatdele te verwys. Ek het vir my lewe gevrees, maar glo dat God groot is. Die veiligheidswagte het my beskerm totdat die polisie opgedaag het. Ek sal steeds as die burgemeester dien en verseker dat dienste aan die mense gebied word. Ek sal die sekuriteit moet opskerp om myself en my familie te beskerm.”
Hy sê die gegriefde mense het sy ampsvoertuig en ’n bakkie van sy lyfwagte se bande met pangas stukkend gekap. Die twee voertuie was by die munisipale gebou geparkeer ten tyde van die voorval.
Madileng glo die aanvallers is ondersteuners van ’n senior amptenaar van die munisipaliteit.
Madileng is in 2017 deur die ANC by die munisipaliteit as burgemeester ontplooi.