Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Binnelanders: ‘Bedrieër’ lieg glo ‘fyn en professioneel’

Klagte vir ’n spul ander misdrywe staar die vermeende baasbrein agter ’n beweerde Binnelanders-bedrogspul in die gesig.

Netwerk24 het Donderdag berig oor ’n geselligheid wat deur Dandelion Kunste gereël is waartydens aanhangers akteurs van die sepie sou kon ontmoet.

Aanhangers is hul geld kwyt, nadat die geselligheid gekanselleer is en Dandelion spoorloos verdwyn het.

Tot 430 kaartjies van tussen R80 en R160 is glo verkoop.

Ernst Swart, die publisiteitsbestuurder van Stark Films wat Binnelanders vervaardig, het Woensdag by navraag gesê Stark Films was glad nie betrokke by die reëlings van die geleentheid nie.

Dandelion Kunste het Stark Films genader oor die moontlikheid, maar nooit weer enige akteurs se beskikbaarheid bevestig of enige kontrakte geteken nie.

Xavier van Vliet (25) is glo die baasbrein agter ’n bedrogspul wat aanhangers van Binnelanders bedrieg het met ’n kaartjie-slenter. Foto: Verskaf

’n Private speurder het vasgestel ene Xavier van Vliet (25) is glo betrokke by Dandelion Kunste.

Volgens die polisie word Van Vliet van talle misdrywe, wat verband hou met bedrog, aangekla.

Kapt. Fikile Funda, ’n polisiewoordvoerder van Vereeniging, sê van die sake is saamgevoeg en sal nou deur die Germiston-polisiekantoor se eenheid vir handelsmisdaad ondersoek word.

Die beweerde bedrog beloop glo meer as R500 000.

Netwerk24 het ook bevestig dat Van Vliet later in Mei weer in die landdroshof in Brits en Pretoria sal verskyn op nog aanklagte wat verband hou met bedrog.

David Mey, Van Vliet se prokureur, het gesê hy dra nie kennis van die Binnelanders-geleentheid nie. Hy sê die sake het te doen met ander bedrogklagte.

“Ek het nog nie met my kliënt hieroor gekonsulteer nie, so ek sal glad nie nou daaroor kommentaar kan lewer nie,” sê Mey.

Hy het Van Vliet op 11 April verteenwoordig toe sy borgtogaansoek in die landdroshof in Pretoria geweier is.

Vermeende slagoffers van Van Vliet wat met Netwerk24 gepraat het se stories toon heelwat ooreenkomste.

Van Vliet doen glo sy sake telefonies en maak of hy ’n vrou is. Hy vertel ook vir mense dat hy swaarkry en sy familie hom as te ware afgeskryf het.

Carin Fourie-Blom ’n hondeteler van Vanderbijlpark, was uit die veld geslaan toe Van Vliet, wat sy gedink het ’n vrou was, by haar huis opdaag.

Van Vliet wou ’n Yorkie op skuld koop.

’n Familielid het aan Netwerk24 gesê die familie wil nie betrokke raak by die saak nie en is moeg vir mense wat hulle nou teister.

Hy het egter net ’n R1 000-deposito betaal en niks verder nie.

Fourie-Blom het twee weke terug haar hondjie met die hulp van die polisie teruggekry.

“Ek weet nie hoe kan iemand so lieg of skelm wees nie,” sê Fourie-Blom.

Petro Ebertsohn van Vanderbijlpark sê Van Vliet jok so professioneel en fyn, mense sal dit nie agterkom nie.

Sy beweer Van Vliet het haar uit sowat R15 000 bedrieg vir ’n bespreking in die Krugerwildtuin wat nooit deurgevoer is nie. Sy het ’n klag by die polisie ingedien.

Mathilda Laubscher van Sasolburg, ’n opkomende sangeres, sê sy moes ’n lening aangaan nadat sy R50 000 verloor het deur Van Vliet se beweerde skelmpraatjies.

Van Vliet het haar glo onder die indruk gebring hy is ’n agent vir LuisterNet wat haar wou help met haar loopbaan.

Dit was alles net valse hoop en ook sy het ’n klag by die polisie ingedien.

Van Vliet se kontaknommers is Vrydag steeds nie beantwoord nie.

’n Familielid het aan Netwerk24 gesê die familie wil nie betrokke raak by die saak nie en is moeg vir mense wat hulle nou teister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.