Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bishops-juffrou skei ná seksskandaal by skool

Fiona Viotti, die Kaapse spogskool Bishops se seksskandaal-juffrou, is geskei van haar man, Pavo.

Viotti (30) het in Oktober as onderwyser en waterpolo-afrigter by Bishops bedank nadat eks­plisiete foto’s en videos van haar op sosiale media beland het. Sy het glo self die beeldmateriaal gestuur aan skoolseuns met wie sy seks gehad het.

Fiona Viotti Foto: Facebook

Haar prokureur, William Booth, het Saterdag aan Rapport bevestig dat die egpaar se huwelik van 12 maande tot niet is.

Hy verteenwoordig Viotti in haar skakeling met Bishops. As deel hiervan wil hy insae hê in ’n verslag oor ’n ondersoek deur adv. Francois van Zyl en die prokureur Graeme Dorrington oor wat by die skool aangegaan het.

Dié verslag lui onder meer dat ­Viotti tussen 2013 en vanjaar “betrokke was in seksuele wangedrag met ten minste vyf leerlinge” voordat sy op 11 Oktober bedank het.

Saterdag het die hoof van Bishops, Guy Pearson, in ’n e-pos aan Booth gesê die volledige verslag is vertroulik en die skool gaan dit nié aan hom gee nie. Booth het Bishops ook Vrydag per e-pos versoek om duidelikheid te gee oor ’n opmerking in die skool se verklaring op 2 Desember wat lui: “(Viotti) het betrokke geraak in seksuele wangedrag met ten minste vyf leerlinge”.

‘Tree ook teen seuns op,’ sê prokureur.

Booth wou weet hoekom daar by die skool “onsekerheid” is ten opsigte van die verspreiding van eksplisiete foto’s en video’s op sosiale media. Hy sê dié “vyf leerlinge” sal vir die skool kan vertel óf hulle wel die beelde ontvang het en of hulle dit versprei het.

Booth het die skool verwys na wetgewing oor die doelbewuste verspreiding van pornografiese materiaal (art. 24 van die Wysigingswet op Films en Publikasie van 2019) en die vervolgbaarheid van oortreders.

Hy sê hy vertrou dat die skool die vyf leerlinge ondervra het en gaan optree teen diegene betrokke by die verspreiding.

Booth moes forensiese kenners inspan om die beelde van pornografiese webwerwe te verwyder en dat die verspreiding daarvan sy kliënt “onherstelbare skade” berokken het. Hy wil hê die skool moet verklaar wat bedoel word as hulle “saamwerk met owerhede” aangesien sy kliënt volgens hom geen misdaad gepleeg het nie. Viotti wil weet aan wie haar “seksuele wangedrag” gerapporteer is.

Booth vra watter stappe teen die betrokke vyf gedoen word en hoekom, want dit lyk of “sulke seksuele optrede tussen me. Viotti en enige van die genoemde vyf seuns konsensueel was. Dit wil voorkom asof nie een van die genoemde leerlinge gedwing is of omgepraat is om aan enige vorm van beweerde seksuele gedrag mee te doen nie”.

Pearson het Booth se vrae afgemaak as ’n “vernuftige” poging om Viotti as die “slagoffer” uit te maak. Pearson sê Van Zyl en Dorrington het Booth skriftelik ingelig oor hulle bevindinge rakende Viotti se seksuele omgang met die leerlinge, en haar die geleentheid gebied om daarop te reageer. Booth het die ondersoekers laat weet dat sy nié bereid was om te reageer nie.

Pearson sê dis gesonde verstand dat wanneer ’n onderwyser in ’n seksuele verhouding met leerlinge betrokke raak, dit duidelik seksuele wangedrag is. In klousule 3.10 in die kode van professionele etiek, soos uitgevaardig deur die Raad op Arbeidsverhoudinge in onderwys (Ravo), word dit duidelik uitgespel dat geen onderwyser seksuele verhoudings met enige leerling mag hê nie.

“U kliënt het aan my en in die teenwoordigheid van ’n getuie erken dat sy seks met vier leerlinge gehad het. Die ondersoek het prima facie-getuienis van seksuele omgang met die vyfde leerling.”

Pearson sê die ondersoekers het probeer om met die inligting tot hulle beskikking te probeer vasstel watter leerlinge die pornografiese materiaal ontvang het en of hulle onder 18 was. Hulle kon nie tot ’n definitiewe bevinding kom nie. Een van die vyf seuns het ontken dat hy beelde van Viotti ontvang het, terwyl ’n ander een genoem het dat die beeld wat hý ontvang het, nie van ’n pornografiese aard was nie.

Pearson sê die skool het ’n verpligting ingevolge die Ravo-kode asook die strafreg om met die betrokke owerhede saam te werk.

Pavo Viotti het nie gister sy foon beantwoord nie.

Meer oor:  Fiona Viotti  |  Egskeiding  |  Pornografie  |  Seuns  |  Bishops  |  Seksuele Molestering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.