Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bloed loop toe paramedici oor pasiënte baklei

Wedywering oor pasiënte op 'n ongelukstoneel het glo in geweld tussen nooddienswerkers ontaard.

Twee werkers van verskillende private ambulansdienste het Maandag op die R55-pad in Kyalami naby Midrand handgemeen geraak.

Die een, ’n intermediêre lewensondersteuningslid (ILS) van die Emer-G-Med-nooddiens, is vir ’n gebarste oordrom en snye aan sy gesig in die hospitaal opgeneem, en die ander, ’n basiese lewensondersteuningslid van Dial-A-Medic, het glo ’n steekwond in die rug.

Albei het klagte teen mekaar by die polisie ingedien.

Hoewel die Emer-G-Med-nooddiens en Dial-A-Medic se weergawes van die voorval verskil, sê albei hulle laat die ondersoek in die polisie se hande.

Die voorval het vroegoggend gebeur nadat twee taxi’s in ’n botsing was. Hoewel verskeie mense beseer is, was niemand se toestand kritiek nie.

Verskeie nooddienste is na die ongelukstoneel.

Emer-G-Med se reaksievoertuig met die ILS-lid was een van die eerstes op die toneel.

emer g med

Dié nooddiens sê in ’n verklaring dat sy span bepaal het wie eerste behandel moet word gegrond op die erns van hul beserings.

“Terwyl ons lid besig was om ’n pasiënt te behandel, is hy aangeval deur wat blyk ’n ambulansbestuurder van ’n klein ambulansdiens te wees,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring moes ander lede van Emer-G-Med tussenbeide tree voordat hulle die pasiënte verder kon behandel.

“Ons ILS-lid, wat sonder uittarting (van sy kant af) die slagoffer was van ’n opsetlike aanval, is hospitaal toe geneem en behandel vir snye aan sy gesig en ’n gebarste oordrom. Hy kry ook traumaberading.

“’n Klag van aanranding is by die Midrand-polisiekantoor ingedien en die voorval is ook by die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aangemeld,” lui die verklaring.

Volgens Wayne Grindell, besturende direkteur van dié nooddiens, het hulle ook ’n verklaring van ’n pasiënt wat tydens die voorval behandel is, wat hul weergawe bevestig.

“Ons paramedikus was besig met noodbehandeling. ’n Rusie het oor dié pasiënt ontstaan en Dial-A-Medic se lid het ons s’n geslaan. Sy gesig is gesny toe hy ’n kar getref het.

“Daar was glo nog ’n voorval, maar ek het geen inligting van iemand wat met ’n mes gesteek is nie en ons lid ontken dat hy iemand gesteek het, maar, soos ek sê, hy is in die hospitaal en ons wag nog vir meer inligting,” sê Grindell.

Hy het bygevoeg dat die nooddiens nie optrede soos dié goedkeur nie.

dial a medic

Mark Schietekat, bedryfsbestuurder van Dial-A-Medic, sê die reaksievoertuig van Emer-G-Med was met hul aankoms op die toneel reeds daar.

“Daar was reeds twee pasiënte in ons voertuig. Hulle is na die ander een (nooddiens) om te hoor of hulle kan help,” sê hy.

Volgens sy inligting was daar vier pasiënte in die reaksievoertuig “toegesluit”, wagtend op Emer-G-Med se ambulanse.

“Een van ons personeellede het gesê dit is oneties, want daar is ander nooddienste op die toneel wat kan help.

“Daar is vir hom gesê dat hy as ’n ‘stupid BLS-medic’ nie met daardie lid (van Emer-G-Med) moet kom praat oor etiek nie. En toe ontaard dit in ’n bakleiery.

“Die Emer-G-Med-lid het ons lid weggestamp en hy is deur ’n kardeur in die gesig getref. Ons lid het teruggeslaan,” beweer Schietekat.

Ander nooddienspersoneel het die twee toe uitmekaar, waarop Dial-A-Medic se lid glo weggestap het.

“Toe kom die ander persoon van agter af en steek ons lid in die rug. My personeellid is in die hospitaal, met ’n meswond. Ons wag dat die polisie sy verklaring afneem. Ons gaan definitief ’n klag indien en die departement van gesondheid betrek,” sê Schietekat.

Lede van die Johannesburgse nooddiens sê “iemand met ’n steekwond” is reeds na ’n hospitaal geneem toe hulle op die toneel kom

Kapt. Steve Malatji, polisiewoordvoerder, sê volgens die polisie se voorlopige inligting was Emer-G-Med eerste op die toneel en het “beheer van die toneel geneem”.

“ ’n Lid van Dial-A-Medic het na bewering op die ander paramedici wat besig was om die beseerdes te help, geskree. Hulle het hom geïgnoreer.

“Hy het gefrustreerd geraak en hulle beledig. Toe hulle steeds nie antwoord nie, het hy een van die mans (van Emer-G-Med) aangerand.

“Die polisie ondersoek die voorval,” sê Malatji.

Pasiënt se belange kom eerste, maar...

Lede van ander private nooddienste sê hoewel ’n pasiënt se belange altyd eerste moet kom, word ’n nooddiens betaal vir “diens gelewer” en kan dit tot wedywering op ’n toneel lei.

Sommige word betaal vir die getal pasiënte wat behandel word.

“Sekere nooddienste betaal weer kommissie aan lede vir die getal pasiënte wat na ’n hospitaal geneem word. Ander kry byvoorbeeld ’n vaste salaris, maar moet ’n ‘teiken’ van ’n sekere getal pasiënte wat gevorderde behandeling benodig, behaal.

“Indien jy nie daardie teiken haal nie, moet jy oortyd werk.”

Xander Loubser van die Ambulink-nooddiens sê gewoonlik werk nooddienste saam en sal ’n paramedikus by ’n ander oorneem as daar meer gevorderde vaardighede en opleiding benodig word.

Meer oor:  Bakleiery  |  Paramedici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.