Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bloedbad op platteland neem toe

Die jongste syfers oor plaasaanvalle en -moorde dui aan dat die bloedbad op die platteland die afgelope jaar toegeneem het, meen Henry Geldenhuys, adjunkpresident van die landbouorganisasie TLU SA.

“Volgens die TLU SA se statistieke was daar vanjaar reeds 409 plaasaanvalle teenoor die 395 plaasaanvalle verlede jaar in dieselfde tydperk en 56 moorde op plase teenoor die 53 van die vorige jaar. Die syfer kan selfs hoër wees want Desember is nog nie verby nie,” sê Geldenhuys.

“Sover ons kennis strek, was daar selfs plaasaanvalle op Kersdag in onderskeidelik Harding in KwaZulu-Natal, waar ’n boer met ’n mes aangeval is, in Kakamas in die Noord-Kaap, waar ’n gesin aangeval is, en in Bapsfontein in Gauteng, waar ’n boer aangerand is.

“Misdade soos moord, gewapende roof en veediefstal neem jaarliks toe.

Wanneer dit by misdaadvoorkoming kom, kan ’n mens nooit te paranoïes wees nie, veral wanneer jy op die platteland woon en sake doen.
Henry Geldenhuys

“Wanneer dit by misdaadvoorkoming kom, kan ’n mens nooit te paranoïes wees nie, veral wanneer jy op die platteland woon en sake doen,” sê Geldenhuys.

Volgens hom word boere deur misdadigers aangeval weens die afgeleë ligging van hul plase en die algemene siening dat hulle oor waardevolle artikels soos kontant, vuurwapens of ammunisie beskik.

“Dit is die regering se grondwetlike verantwoordelikheid om na die veiligheid van al sy landsburgers om te sien,” sê Geldenhuys.

Hy verwag selfs ’n groter aanslag op georganiseerde landbou in 2020. “Die werkloosheidsyfer is reeds geruime tyd onaanvaarbaar hoog en met die regering se totale onvermoë om vure by Eskom en die SAL dood te slaan, sal net meer mense binnekort hul poste kwyt wees, wat die druk verder verhoog.

Hy verwag selfs ’n groter aanslag op georganiseerde landbou in 2020.

“Die onteiening sonder vergoeding-kwessie hang ook soos ’n swaard oor boere se koppe. Om al die uitdagings die hoof te bied het TLU SA reeds hande gevat met AgriSA en nooi ons ook ander organisasies, selfs dié buite die landboubedryf, uit om by ons aan te sluit om ’n verenigde front ten opsigte van veiligheid te vorm en sodoende ’n verskil te maak,” sê Geldenhuys.

“Boere is die hoeksteen van die land se ekonomie en het die reg tot veiligheid,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens hom beplan die burgerregtegroep om vroeg aanstaande jaar sy jongste syfers oor plaasaanvalle en -moorde bekend te maak.

“Die vorige syfer wat ons in November vanjaar bekend gemaak het, toon dat daar van 1 Januarie tot 7 November 376 plaasaanvalle en 37 moorde aangemeld is. Die syfer vir 2018 het dié tyd op 366 aanvalle gestaan met 47 moorde. Ons het sedertdien reeds aansienlik meer aanvalle aangeteken as in 2018 en sal vroeg aanstaande jaar die getalle bekend maak.”

Volgens Cameron is daar nou meer gevalle waar boere hulself met vuurwapens teen misdadigers verdedig.

“Boere is besig om terug te baklei. Daar is beslis ’n verbetering in die organisering van veiligheidstrukture op plase,” sê Cameron. Hy moedig boere aan om by hul plaaslike plaaswag of gemeenskapsveiligheidstrukture betrokke te raak.

“Wanneer jy ’n boer in Suid-Afrika is, moet veiligheid nooit ver van jou gedagtes af wees nie,” sê Cameron.

(Lees ook: https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/kzn-gewonde-boer-ry-19-km-na-mesaanval-20191226)

Meer oor:  Tlu Sa  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle  |  Platteland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.