Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bloedbad op Vlakte verwag ná Staggie se dood

Sleutelfigure in die Kaapse onderwêreld het Vrydag gewaarsku dat die dood van Rashied Staggie, stigterslid en leier van die berugte Hard Livings-bende, tot ’n bloedige oorlog op die Kaapse Vlakte gaan lei.

Familielede van Rashied Staggie saam met polisie op die moordtoneel. Foto: Jaco Marais

Staggie is Vrydag in Londonweg in Soutrivier reg voor sy huis geskiet, op dieselfde plek waar Pagad-lede sy tweelingbroer, Rashaad, in Augustus 1996 geskiet en lewend aan die brand gesteek het.

Rashaad se openbare teregstelling het destyds plaaslik en wêreldwyd opspraak gemaak toe Pagad-lede na sy huis opgeruk en hom aangeval het. Pagad is in 1996 gestig as ’n vigilante-gemeenskapsorganisasie teen die geweld van die Kaapse Vlakte.

Rashied en Rashaad se Hard Livings-bende was eens van die magtigste bendegroepe in die Wes-Kaap, met sy basis in Manenberg op die Vlakte.

Ontstelde Hard Livings-bendelede, versprei oor die Vlakte, het Vrydag wraak gesweer nadat Staggie reg voor sy huis geskiet is.

“Ons sal nie rus totdat sy moordenaars opgespoor is nie,” het ’n lid van die bende buite die hospitaal gesê, waar Staggie dood is.

Die polisie soek vir leidrade op die toneel waar Rashied Staggie geskiet is.Foto: Jaco Marais
Die binnekant van die motor waarin Rashied Staggie geskiet is.Foto: Verskaf

Die bendegeteisterde woonbuurte Manenberg en Mitchells Plain was reeds gespanne oor moontlike wraakaanvalle, met gemeenskapsleiers wat almal vergeldingsaanvalle gevrees het.

Die Wes-Kaapse polisie het die skietvoorval bevestig en gesê forensiese kenners he die toneel gefynkam vir leidrade nadat ’n 58-jarige man in Londonweg geskiet en ernstig gewond is.

“Die man is met sy aankoms in ’n nabygeleë hospitaal dood,” het brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens die polisie se voorlopige inligting het Staggie in sy voertuig gesit toe twee onbekende skieters toegeslaan en verskeie skote op hom afgevuur het. Hulle het daarna te voet gevlug.

Potelwa sê die Woodstock-polisie het kort ná die voorval versterkings in en om die Soutrivier-gebied ontplooi.

Bendelede wat noue bande met die Staggies het, het bevestig dat die motor waarin hy gesit het vol koeëlgate is en die beeldmateriaal van veiligheidskameras by sy huis wys glo hoe twee verdagtes die voertuig nader en losbrand.

Foto’s van die voertuig wys minstens 12 koeëlgate in die voorruit, een in die enjinkap en ’n ander aan die kant van die silwerkleurige Toyota.

Volgens vriende het sy seun hom na die hospitaal gehaas, maar hy het nie die aanval oorleef nie.

Strydende bendes soek glo al lank Staggie se bloed in die bloedige bendeoorloë wat die laaste tyd tussen die Hard Livings en die 28’s woed.

Die familie het Vrydag gevra dat hul privaatheid gerespekteer moet word en dat hulle nog in die proses is om Staggie se begrafnisreëlings te bespreek.

Staggie het jare gelede sy Moslemgeloof prysgegee en ’n Christen geword.

“Dit is nog nie seker ingevolge watter geloof hy begrawe gaan word nie,” het ’n familielid gesê.

Rashied StaggieFoto: Jonathan Lestrade

Intussen het die bendewêreld Vrydagmiddag gegons dat een van Staggie se seuns, wat ’n Terrible Hard Living-bendelid is, kort ná die sluipmoord op sy pa ook geskiet is.

Foto’s van die slagoffer, wat dood in ’n plas bloed lê, is wyd versprei, maar die polisie kon dit nie bevestig nie en die familie het die gerugte ontken.

Past. Ivan Waldeck, ’n vertroueling en beste vriend van Staggie, sê hy is platgeslaan deur sy vriend se skietdood.

“Ek is hartseer; ons was na aan mekaar en so ’n dood het hy nie verdien nie. Ek sal hom nooit vergeet nie.”

Volgens Waldeck was Staggie meer van ’n vrede-bemiddelaar op sy oudag en het hy die ou lewe opgegee.

“Daar is nie juis woorde om te beskryf hoe ek vandag voel nie. Ons kom ’n lang pad saam en enigiemand wat in ’n koeëlreën sterf, of dit nou Staggie is, of ’n ander pa, ma of ’n kind, dit is hartverskeurend vir dié wat agterbly.”

Dié skietvoorval volg ook slegs ure nadat Tauriq “Ballie Tips” Solomons, vermeende leier van die Hard Livings-bende in Westridge, Mitchells Plain, Donderdagmiddag vermoedelik deur lede van die 28’s-bende doodgeskiet is.

“Ons veroordeel geweld in alle vorme en vra vir kalmte ná die skietery,” het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Vrydag ná Staggie se dood gesê.

Hy sê die SAPD is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas en hy het gevra dat alle buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums en verantwoordelike gemeenskapsleiers moet help om die kalmte te bewaar.

Meer oor:  Rashied Staggie  |  Kaapse Vlakte  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.