Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bloem se 'bende inbrekers' ná jaagtog, skietery vas

Bloemfontein se berugte “inbreekbende” is agter tralies ná ’n wilde jaagtog deur die Rosestad se strate waarin die polisie op hul motor geskiet het om die voertuig tot stilstand te bring.

Die drie vermeende inbrekers se moontlike betrokkenheid by minstens agt sake van huisbraak in Bloemfontein word ondersoek.

Hulle teister reeds weke lank die noordelike en suidelike voorstede van die stad.

Die mans is Woensdag in hegtenis geneem nadat hulle omstreeks 11:20 by ’n huis in Bakkiesdraaistraat, Pellissier, ingebreek het terwyl hulle in ’n polisie-operasie dopgehou is.

So lyk die motor waarin die mans gery het nadat die polisie op hulle geskiet het. Foto: Verskaf

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die huiseienaar het ’n oproep van die polisie ontvang oor die inbraak by sy huis. Toe hy by die huis kom, was die glasdeur oopgebreek en was sy TV en rekenaarboks weg.

Volgens ’n bron het die polisie inligting ontvang en die mans dopgehou en toegeslaan toe hulle by die huis ingebreek het. Die mans het weggejaag, waarna ’n wilde jaagtog plaasgevind het.

Die polisiebeamptes van verskeie eenhede, met behulp van gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), buurtwaglede, veiligheidsmaatskappye en ’n polisiebeampte wat van diens was, het die mans agternagesit en in Curielaan, deur Wilgehof en Heidedal tot by die Meadowlandspad in Bloemspruit gejaag. In Bloemspruit het ’n lid van die polisie se taktiesereaksie-eenheid (TRT) op die motor geskiet om dit tot stilstand te dwing.

Volgens inligting het die beampte uit sy voertuig gespring om die verdagtes te stop, maar hulle het reguit op hom afgepyl. Hy het agt skote op die motor geskiet.

Die agteruit is stukkend geskiet. Die mans is egter ongedeerd.

Die wit Hyundai-motor wat hulle gebruik het, behoort glo aan ’n motorverhuringsmaatskappy.

Die polisie het drie TV-stelle in die motor gevind en later glo nog gesteelde artikels by die mans se huise in Heidedal, Bloemfontein.

Covane sê die mans word verbind met ander sake in Bloemspruit en by ander polisiekantore in die stad.

Sers. Ikobeng Hlubi, nog ’n polisiewoordvoerder, sê ’n klag van poging tot moord word ook ondersoek.

Volgens haar kan die mans ook met ander misdade verbind word.

Die mans, onderskeidelik 22, 26 en 36 jaar oud, sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

* Volgens die jongste misdaadsyfer wat Dinsdag bekend gemaak is, is die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein die polisiekantoor waar die naas meeste (onder die 30 toppolisiekantore) huisbrake (1 288) in die boekjaar 2017-’18 aangemeld is. Dié polisiekantoor is ook sesde op die lys (van 30 toppolisiekantore) as dit kom by inbrake by nie-residensiële persele.

Meer oor:  Inbrekers  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.