Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bul-breiers ‘koop poste’
Bloubloed-troue. Werknemers van die Blou Bulle en vriende by Xander Janse van Rensburg se troue. Een van die bewerings is dat die Blou Bulle onregmatig die drankrekening betaal het. Van links: Gary Botha, Anton Leonard, Nollis Marais, dr. Herman Rossouw, Henri-Charl Terblanche, Barend van Graan, Xander Janse van Rensburg, Pieter du Plessis, Hendré Marnitz, Jaco Pienaar, Chris Hefer, John- William Meyer, Shaun du Toit, Heyneke Meyer. Voor: David Manuel, Divan Serfontein en Werner de Beer.

Die Valke ondersoek aantygings dat Blou Bul-afrigters, ’n spandokter en ander lede van die topbestuur hul poste met honderdduisende rande gekoop het.

Die ondersoek na Xander Janse van Rensburg, voormalige hoë­prestasie-bestuurder van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het uitgekring toe verskeie rugby-hoëkoppe oënskynlik gebieg het dat hulle geld aan Janse van Rensburg betaal het.

Rapport se inligting is dat tot 15 werknemers van die BBM betalings aan Janse van Rensburg gemaak het. Dit vorm nou deel van die forensiese ondersoek van die BBM én strafregtelike ondersoek van die Valke. Janse van Rensburg het nie op versoeke vir kommentaar gereageer nie.

Van die grootste onthullings tot dusver is:

Nollis Marais het glo uit eie beweging na vore gekom en ’n verklaring afgelê dat hy ’n betaling van sowat R100 000 aan Janse van Rensburg gemaak het toe hy aangestel is as afrigter van die Superrugbyspan in 2016.

Die ondersoek moet bepaal of dit omkoopgeld was om dié pos te kry of om ’n ander rede aan Janse van Rensburg betaal is.

Marais sou die betaling aan Janse van Rensburg maak toe hy destyds as Frans Ludeke se opvolger aangewys is. Hy het die Bulle se Superrugbyspan in 2016 en 2017 met beperkte sukses afgerig, waarna hy sy pos verloor het en as die hoofafrigter van die o.19-span aangestel is.

Hy het vanjaar Tukkies en die Bulle se SuperSportspan afgerig. Hy is ook vanjaar die hoofafrigter van die Bulle se o.21-span.

Marais het aan Rapport gesê hy kan nie nou op die bewerings reageer nie.

  • Die oud-Springbok Anton Leonard het glo ook met sy aanstelling by die Superrugbyspan ’n betaling aan Janse van Rensburg gemaak. Leonard is tans een van die Superrugby-span se hulpafrigters. Leonard het Rapport se teksboodskap waarin hy vir kommentaar gevra word, gelees, maar nie daarop gereageer nie.
  • Verskeie ander afrigter-personeellede is glo betrek by die betalings. Rapport verneem sommige het reeds verklarings afgelê.
  • Dr. Herman Rossouw, die spandokter, het ook glo na vore gekom en in ’n verklaring gesê hy het R60 000 aan Janse van Rensburg oorbetaal. Rossouw het by navraag gesê hy gaan nie nou kommentaar lewer nie.
  • Die ondersoek moet ook bepaal of Barend van Graan, voormalige uitvoerende hoof van die BBM, geweet het van dié betalings en of die topbestuur bewus was hiervan.

Na wat verneem word, het Marais in sy verklaring gesê hy het die betaling wat hy moes maak met Van Graan opgeneem, want hy het ongemaklik gevoel oor die feit dat hy so ’n groot bedrag geld in Janse van Rensburg se persoonlike rekening moet betaal.

Van Graan, wat in Januarie uitgetree het, het Rapport se navrae hieroor – en of die direksie bewus was daarvan – navraag of hy kennis gedra het van die betaling en of dié beweerde praktyke die direksie se goedkeuring weggedra het, Rapportna sy opvolger, Alfons Meyer, verwys.

Meyer het gesê hy kan nie kommentaar lewer terwyl die ondersoek aan die gang is nie.

Tim Dlulane, oud-Springbokflank en Bulls-spanbestuurder, het verlede jaar aan Sport24 gesê die oudhoofafrigter Heyneke Meyer het Janse van Rensburg “as die messias van werwing verkoop, maar hy het aangegaan asof hy die Blou Bulle se eienaar was”.

“Barend (Van Graan) het Xander ondersteun toe almal teen hom was . . . Ek is nie die enigste een wat sy bekwaamheid bevraagteken nie.”

Kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die ondersoek oorhandig is aan die Valke se eenheid vir handelsmisdade. Hy sê die ondersoek is nog aan die gang.

Sedert Janse van Rensburg in Februarie “om gesondheidsredes” uitgetree het, het die een geraamte ná die ander uit Loftus Versfeld se kas geval.

Rapport het vroeër berig Janse van Rensburg het glo die BBM soos ’n soort koninkryk bestuur. Van die bewerings is ook dat spelers wat deur sekere agente verteenwoordig is beter kontrakte as ander gekry het. Dit kon nie bevestig word nie. van sekere agente beter geld hande verwissel het sodat Janse van Rensburg beter kontrakte met sekere spelers gesluit het en net deur sekere agente.

Rapport verneem die BBM is tans in ’n kontrakteringspenarie.

Toe hy bedank het, het Janse van Rensburg glo al R107 miljoen van die R90 miljoen-spelersbegroting bestee.

Meyer en Alan Zondagh, direkteur van rugby, was na wat verneem word geskok toe hulle besef die Bulle het kontrakte met 202 spelers. ’n Oudit het gewys 100 spelers is oorbodig.

Meyer het die afgelope week gesê: “Ons het baie verminder en sal nog volgende jaar tussen 110 en 120 spelers op ons boeke hê. Dit sal met tyd verminder, maar die ideaal is so 90 spelers, juniors ingesluit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.