Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Blou Bulle se ‘messias’ bekyk

Die poppe dans by Loftus Versfeld nadat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) ’n forensiese ondersoek van stapel gestuur het na beweerde bedrog en finansiële ongerymdhede deur hul voormalige hoëprestasiebestuurder Xander Janse van Rensburg.

Xander Janse van Rensburg

Die omstrede Janse van Rensburg het in Februarie skielik om gesondheidsredes by die Bulle bedank nadat hy die pos sedert 2012 beklee het. Hy was ná sy bedanking twee weke lank in die hospitaal.

Alfons Meyer, wat in Januarie as die BBM se uitvoerende hoof by Barend van Graan oorgeneem het, het verlede week opdrag gegee vir ’n forensiese ondersoek nadat daar nie rekenskap gegee kon word van geld nie.

Volgens Rapport se inligting is die bewerings van so ’n ernstige aard dat dit moontlik tot strafregtelike klagte kan lei. Dit het onder meer te doen met die beweerde hantering van honderdduisende rande se kontant waarvoor daar geen bewyse gelewer is nie.

Ingeligte bronne sê personeel, spelers en direksielede het gekla oor Janse van Rensburg se werksetiek, maar dat Van Graan hom na bewering “beskerm het”.

Hy het alles beheer, van die afrigter se kontrak tot die water wat by die stadion afgelewer is.

Tien personeellede van die BBM het al beëdigde verklarings oor die beweerde ongerymdhede afgelê.

Die BBM was nie bereid om enige besonderhede oor die ondersoek bekend te maak nie.

Verskeie bronne het aan Rapport bevestig dat dit glo handel oor baantjies vir boeties en “sakgeld” wat in kontant aan rugbyspelers betaal is.

Volgens Rapport se inligting:

  • het ’n bestaande werknemer van die BBM in ’n beëdigde verklaring beweer hy moes Janse van Rensburg R60 000 betaal om in sy pos aangestel te word;
  • word ’n kontrak van R1 miljoen ondersoek wat glo toegeken is aan ’n gastehuis wat behoort aan ’n familielid van Janse van Rensburg;
  • is daar na bewering ’n “groot bedrag” kontant in sy kantoor gevind toe hy bedank het. Daar was geen verduideliking daarvoor nie;
  • is daar na bewering nie behoorlik rekenskap gegee van hoe die R500 000 “sakgeld” bestuur is wat op die Bulle se toer na Australië en Nieu-Seeland gebruik is nie. Die toerbegroting is blykbaar ver oorskry met onbeplande onkoste; en
  • het sekere agente glo agterafbetaling (kickbacks) gekry vir die kontraktering van spelers en het sekere spelers ongewoon lonende kontrakte gekry.

Daar word beweer dat Remgro, die hoofaandeelhouer in die BBM, die ondersoek aangevra het, maar die maatskappy ontken dit.

Pieter Uys, ’n verteenwoordiger van Remgro in die BBM se direksie, sê die besluit is deur die BBM se raad geneem en dat Remgro dit ondersteun. Uys het ook gerugte ontken dat Remgro van plan is om aan die Bulle te onttrek.

Daar word beweer dat Janse van Rensburg reeds ’n groot deel van die BBM se begroting vir die jaar bestee het. Rapport kon dit nie onafhanklik bevestig nie.

Daar is wel druk op die BBM se geldsake wat vererger word deur swak bywoning by Loftus Versfeld.

Die BBM moes in 2017 afrigters en administrasiepersoneel afdank en die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) – die amateurafdeling van die unie – het die afgelope week ook met ’n afleggings-proses begin.

Alan Zondagh, die direkteur van rugby by die BBRU, sê hulle gaan meer as 100 kontrakte moet besnoei omdat hulle te veel spelers gekontrakteer het.

Die BBM het vroeër vanjaar erken hulle het ook te veel spelers op hul boeke.

Terwyl Janse van Rensburg in beheer van die kontraktering van spelers was, het hy glo kontrakte met 54 skoolverlaters aangegaan terwyl ander rugbyunies ingekort het en SA Rugby die o.19-kompetisie afgelas het.

Janse van Rensburg, wat net 29 jaar oud was toe Van Graan hom in 2012 aangestel het, is beskou as een van die invloedrykste administrateurs in rugby in Suid Afrika.

“Hy het alles beheer, van die afrigter se kontrak tot die water wat by die stadion afgelewer is. Daar was niks waarin hy nie insae gehad het nie,” het ’n ingeligte aan Rapport gesê.

Meyer het in ’n verklaring bevestig daar is ’n forensiese ondersoek teen Janse van Rensburg oor “beweerde bedrieglike aktiwiteite”.

Janse van Rensburg het per WhatsApp vir Rapport gesê hy gee sy “volle samewerking” met die ondersoek.

Tim Dlulane, oud-Springbokflank en Bulls-spanbestuurder, het verlede jaar aan Sport24 gesê Heyneke Meyer het Janse van Rensburg “as die messias van werwing verkoop, maar hy het aangegaan asof hy die Blou Bulle se eienaar was”.

“Barend (Van Graan) het Xander ondersteun toe almal teen hom was . . . Ek is nie die enigste een wat sy bekwaamheid bevraagteken nie.”

Van Graan en die oud-Bloubul-president Gert Wessels het alle vrae na Meyer en die BBM verwys.

Meer oor:  Xander Janse Van Rensburg  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.