Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bly paraat, al daal kapings

Die getal motorkapings in Suid-Afrika het verlede jaar vir die eerste keer in agt jaar afgeneem – met 1,8%. Lizette Lancaster van die Instituut vir Sekerheidstudies sê daar gebeur landwyd gemiddeld 44 kapings per dag.

“Ons het voor die afname ’n astronomiese styging gesien. Die getal motorkapings is buitengewoon, dis buite verhouding hoog vir enige soort roof.”

Kapings en huis- en sakerooftogte word as trio-misdade beskryf. “Dit is vir die regering prioriteitsmisdade omdat dit die soort misdaad is wat mense die meeste vrees, maar tog lyk dit nie of die regering dit onder beheer kry nie,” sê sy.

Lancaster sê die meeste kapings lei nie tot beserings of dood nie. Kapers gebruik gewoonlik net geweld as hulle skrik of as hulle weerstand kry. Hul oogmerk is om die motor te vat en hulle wil gewoonlik nie skade daaraan aanrig nie.

Toyota Fortuners en Volkswagen Polo’s is gewilde keuses, maar selfs 20 jaar oue motors is al gekaap.

Soms soek die rowers net ’n wegkom-motor, maar dikwels kaap hulle ’n spesifieke voertuig omdat hulle dit maklik in sy geheel van die hand kan sit of die onderdele kan verkoop. Sy sê dis moeilik om tendense te bepaal oor watter voertuie kapers verkies. Toyota Fortuners en Volkswagen Polo’s is gewilde keuses, maar selfs 20 jaar oue motors is al gekaap.

Dit blyk ook die kleur van ’n voertuig maak nie vir kapers baie saak nie.

Hulle verkies plekke met maklike wegkomroetes, soos vinnige toegang tot hoofweë.

Kapings word meestal vooruit beplan en die spanlede is opgelei vir hul verskillende rolle.

Die meeste motorkapers het eers ander misdade, soos straatrooftogte, gepleeg en toe na kapings gevorder.

Haar raad aan motoriste is om te probeer om nooit langs die pad stil te hou of in hul motors te sit nie. Sy raai mense ook aan om in verkeer ruimte te laat tussen hul motor en die een voor hulle.

“Wanneer ’n vuurwapen op jou gerig word is daar baie min wat jy kan doen. Jy moet jouself vra wat is belangriker, jou lewe of jou motor?”

Anne Wood, bestuurder van openbare betrekkinge by die veiligheidsmaatskappy Beagle Watch, maan motoriste om paraat te wees wanneer hulle hul huise verlaat. “Vertrou jou instink. As jy dink jy word agtervolg, bel jou veiligheidsmaatskappy of gaan na ’n veilige plek.”

Sy stel ook voor dat mense hul roetes en gewoontes sover moontlik afwissel.

Meer oor:  Lizette Lancaster  |  Kapings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.