Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bob Hewitt moet in tronk bly, sê slagoffer

Die oudtennisspeler en -afrigter Bob Hewitt kan, wat een van sy slagoffers betref, in die tronk doodgaan.

“Ek het nie ’n saak met sy welstand nie. Hy kan in die tronk sterf. Ek dink ek het die reg verdien om sorgvry te leef.

“Hoekom mag hy tyd saam met sy familie kry? Ek het myne tien jaar laas gesien omdat ek vir myself opgestaan het,” het Olivia Jasriel, wat voorheen as Suellen Sheehan bekend was, gesê.

Olivia Jasriel, wat voorheen as Suellen Sheehan bekend gestaan het. Foto: Simon Sonnekus

Haar uitlatings kom nadat dit aan die lig gekom het dat Hewitt aansoek gedoen het om die oorblywende vier jaar van sy tronkstraf na korrektiewe toesig te laat verander.

Jasriel het Woensdag saam met die organisasie Women and Men Against Child Abuse die media by die Eversheds Sutherland-prokureursfirma in Melrose Arch, Johannesburg, oor Hewitt se aansoek toegespreek.

“In hierdie geval het ’n misdadiger meer regte as die slagoffer en ek sukkel om dit te verstaan. Het ek dan nie die reg om ’n normale lewe, wat 38 jaar gelede van my weggeneem is, te lei nie?

“Hy (Hewitt) dien slegs twee jaar uit van ’n vonnis van ses jaar, terwyl ons almal sit met lewenslange vonnisse,” het Jasriel gesê.

Hulle sal met die hulp van Eversheds Sutherland probeer om Hewitt se aansoek teen te staan.

Miranda Jordan-Friedmann van Women and Men Against Child Abuse. Foto: Simon Sonnekus

Die Australies gebore Hewitt (78) is in Maart 2015 skuldig bevind aan die verkragting van twee tienermeisies wat in die 1980’s tennislesse by hom geneem het.

Hy is ook skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van ’n derde meisie en is effektief tot ses jaar tronkstraf gevonnis.

Hy het in September 2016 sy tronkstraf in die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth begin uitdien.

Miranda Jordan-Friedmann van Women and Men Against Child Abuse het by die geleentheid gesê Hewitt se slagoffers het verklarings saamgestel vir die paroolraad om te oorweeg.

“Ek het gisteraand met Theresa “Twiggy” Tolken, een van Hewitt se slagoffers wat in Nieu-Seeland woon, gepraat. Sy en haar 81-jarige ma gaan ook verklarings stuur,” het Jordan-Friedmann gesê.

Peter van Niekerk, direkteur van Eversheds Sutherland en direksielid van die Teddiebeer-kliniek.Foto: Simon Sonnekus

Peter van Niekerk, direkteur van Eversheds Sutherland en direksielid van die Teddiebeer-kliniek, het gesê die verklarings moet teen Vrydag ingedien word.

“Daar is nog baie struikelblokke wat Hewitt eers moet verbysteek en as hy nie slaag nie, kan ek waarborg oor twee jaar sit ons weer hier vir sy amptelike borgtogaansoek.

“Ná Vrydag se verrigtinge sal die paroolraad alle moontlike getuienis en verklarings in ag neem en ’n aanbeveling doen,” het Van Niekerk gesê.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê die departement sal eers kommentaar lewer nadat die paroolraad ’n beslissing gemaak het.

Hewitt se vrou, Delaille, het by navraag gesê sy sal hom graag tuis wil hê en dat min mense hulle kant van die verhaal gehoor het.

“Natuurlik wil ek hom tuis hê. Inteendeel, die hele gemeenskap soek hom terug. Ek sou ook nie omgee om ons kant van die verhaal te vertel nie.

“Dit is asof mense bang is en nie bereid is om met ons te praat nie,” het sy gesê.

Meer oor:  Bob Hewitt  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.