Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer (46) in sy rolstoel vasgebind, vermoor

Neil McKay wou net boer.

Selfs nadat ’n vorige plaasaanval hom jare gelede verlam gelaat het, wou hy steeds net boer.

Saterdagoggend het die 46-jarige man se ma hom vasgebind en vermoor op sy plaas, Skietdrif naby Winterton, KwaZulu-Natal, gevind.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê ’n aanklag van moord word ondersoek nadat McKay se lyk om 10:15 gekry is.

“Die man se liggaam is gevind met wurgmerke aan sy nek. Sy hande was vasgebind en hy is gevind in sy rolstoel. Die omstandighede van die voorval word ondersoek,” sê Gwala.

Dit blyk volgens mense wat op die toneel was dat sy honde ook beseer is toe dié hom vermoedelik probeer beskerm het. Dit is onbekend of iets gesteel is, aangesien die boer se televisiestel en ander elektroniese toestelle nog in die huis was.

McKay het ’n gemengde boerdery met pluimvee en gewasse bedryf.

Alf Lees, DA-LP en kiesafdelingshoof vir Uthukela, die omgewing waar die aanval plaasgevind het, sê dit blyk dat McKay Vrydagaand in sy kantoor in die skuur, ongeveer 30 m van sy huis af, oorval is.

“Die vermoede is dat hy dopgehou is, want die hulpelose man is aangeval net nadat sy plaasbestuurder en -personeel huis toe is. Dit moes dus ná 18:00 gewees het.

“Dit lyk of sy kluis (in die kantoor) leeggemaak is, waarop Neil toe na sy slaapkamer in die huis gesleep en daar brutaal verwurg is.

“Sy honde het ernstige snymerke opgedoen, wat dalk kon gebeur het toe hulle hom probeer beskerm het. Aan die hoeveelheid bloed op die toneel, mag die honde dalk van die moordenaars gebyt het,” sê Lees.

McKay is ongeveer 20 jaar gelede gewond in ’n aanval op een van die naburige plase waar hy in daardie stadium as jong man gewerk het. Die koeël het teen sy ruggraat vasgesit en sy onderlyf verlam.

Sy pa, Fred, wat so drie jaar gelede oorlede is, het toe die plasie Skietdrif so ingerig dat sy seun steeds kon boer.

Wie sou ’n gestremde man vermoor, ’n man in ’n rolstoel wat ongewapen is en liggaamlik nie in staat om homself te verdedig nie!

McKay se ma, Beverley, wat in die Pietermaritzburg-omgewing bly, het naweke vir hom kom kuier en, het mense vertel, vir hom kos vir die week gekook.

Sy het Saterdagoggend by die plaas aangekom vir haar gereelde kuiertjie by haar enigste seun.

Luidens bronne, en ook volgens Lees, het sy die huiswerker gevra waar McKay is.

“Die huiswerker het gesê sy dink Neil slaap nog, want sy kamerdeur is toe. Sy ma het soontoe gegaan, die deur oopgestoot en haar seun in die rolstoel gevind, sy hande agter sy rug gebind.

“Wie sou ’n gestremde man vermoor, ’n man in ’n rolstoel wat ongewapen is en liggaamlik nie in staat om homself te verdedig nie!” sê Lees.

Ander bronne bevestig dat daar merke aan McKay se nek was, maar geen ander opsigtelike beserings nie.

Lees sê hy kon geen bevestiging kry dat die mense wat McKay 20 jaar gelede geskiet het ooit gevang is nie.

“Sekerlik behoort hierdie tweede aanval en afskuwelike moord Bheki Cele, minister van polisie, sover te kry om uiteindelik dieselfde aandag aan die duisende onopgeloste moordsake te gee as wat hy gee aan mense op strande?

“Neil was ’n saggeaarde, vriendelike man, soveel so dat dit blyk hy nooit eens ’n wapen aan hom wou dra nie.

“Mense wat ’n weerlose man kan vermoor, is ’n gevaar vir almal. Hulle moet gevind en toegesluit word voordat hulle weer moor.

“Dit is onmoontlik om sy ma se skok en seer te probeer verstaan. Sy moes deur die eerste aanval op haar seun leef. Toe ’n tweede, waar hy vermoor is.

Sekerlik behoort hierdie tweede aanval en afskuwelike moord Bheki Cele, minister van polisie, sover te kry om uiteindelik dieselfde aandag aan die duisende onopgeloste moordsake te gee as wat hy gee aan mense op strande?

“Die DA sal die polisie se ondersoek dophou en monitor. Ons sal druk op hulle sit totdat Neil McKay se moordenaars gevang is,” sê Lees.

McKay word ook deur twee susters oorleef.

Meer oor:  Plaasmoord  |  Winterton  |  Neil Mckay
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.