Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer (81) beseer toe hy van aanvallers wou vlug

’n Bejaarde boer van Burgersdorp in die Oos-Kaap is in ’n Bloemfonteinse hospitaal opgeneem nadat hy Maandag van sy aanvallers probeer vlug het.

Drie mans het omstreeks 11:00 toegang tot Jan Terbrug (81) se huis op die plaas Alfalfa in die Burgersdorp-distrik gekry, sê Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder.

“Toe Terbrug, die eienaar van die plaas, en ’n plaaswerker van die veld terugkeer, het die verdagtes hulle ingewag nadat hulle die huiswerker en twee tuinwerkers in die badkamer vasgebind het.”

Die mans het die bejaarde en die plaaswerker aangeval en in die gang vasgebind.

Terbrug het glo ’n enkelbesering opgedoen toe hy van die aanvallers probeer vlug het.

Die plaaswerker is ook na die badkamer geneem.

Die drie mans het volgens Roelofse die huis deursoek en verskeie artikels, soos ’n pistool, ammunisie en ’n sak met ’n saag gebuit.

Hulle het met die eienaar se Isuzu-bakkie weggejaag.

Lede van die Burgersdorp-gemeenskap is ontsteld omdat die ambulans nooit by die plaas op die Stormbergpad uitgekom het nie weens ’n staking wat glo vroeër die dag plaasgevind het.

’n Buurman het glo vir Terbrug na Burgersdorp gebring voordat hy na Bloemfontein gehaas is. Dit is nie seker in watter hospitaal hy opgeneem is nie.

Intussen het boere in die distrik twee van die verdagtes opgemerk en die polisie in kennis gestel.

“Omstreeks 14:00 het boere die slagoffer se bakkie in die distrik gesien en dit vreemd gevind dat ’n onbekende man saam met twee onbekende passasiers daarin ry,” sê Roelofse.

’n Jaagtog het ontstaan en die polisie het skote afgevuur om die bestuurder te stuit. Hy het toe in die Tembisa-nedersetting tot stilstand gekom.

Die polisie kon een van die verdagtes aankeer en die ander twee het weggehardloop.

Later die middag het lede van die gemeenskap die polisie laat weet oor nóg ’n verdagte man wat hulp in die Tembisa-gebied vra.

Die polisie het op die toneel afgekom en die man, wat gewond was, aangekeer.

Johandré van Zyl, AfriForum se assistent-koördineerder in die Wes-Kaap, sê bejaardes word geteiken en dat veiligheidstrukture spesifiek daarop moet fokus om dié kwesbare groep betrokke te maak.

“Sodoende sal hulle vinniger in noodsituasies gehelp kan word.”

Volgens Van Zyl was Terbrug Maandagaand laat stabiel en nie erg beseer nie.

Die verdagtes sal vandeesweek in die hof verskyn.

“Die voorval word verder ondersoek,” sê Roelofse.

Meer oor:  Jan Terbrug  |  Burgersdorp  |  Plaasaanval  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.