Minstens een persoon is Woensdag in vermoedelik ’n plaasaanval in die Kirkwood-distrik in die Oos-Kaap dood.
Volgens ’n betroubare bron het ’n groep aanvallers tussen 02:00 en 03:00 op die plaas Steenbokvlakte toegeslaan.
Hoewel die presiese omstandighede nog onbekend is, dui inligting daarop dat die boer ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is. Een van die aanvallers is glo noodlottig gewond.
Sers. Majola Nkohli, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdagoggend bevestig dat een van die vermeende aanvallers dood is, maar kon nie verder kommentaar lewer oor die voorval en of nog mense beseer is nie.
Hy het gesê die polisie is steeds op die toneel.
Eardley Rudman, voorsitter van die Glenconnor-boerevereniging, het gesê hulle gaan hul veiligheidskameras se beeldmateriaal na om moontlike leidrade oor die aanval te kry.

Sitrusboorde in die Kirkwood-distrik. Foto: Argief