Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer gaan haal astrante dief uit ysige water

Klein Jan Bezuidenhout, ’n boer van Odendaalsrus, sê toe ’n dief in ’n slikdam invlug en hom nog tart, het hy hom so vererg dat hy die dief uit die ysige water gaan haal het.

Bezuidenhout sê die dief het ewe astrant vir hom gewys hy moet kom.

“Toe spring ek in en gaan haal hom,” sê Bezuidenhout.

Die sleepwa met die sinkplate wat die diewe afgehaak het.

Bezuidenhout was self verlede week die slagoffer van misdaad toe 200 van sy en sy pa, Jan, se skape gesteel is.

Johan Terblanche, ’n bestuurslid van die Sandrivier-gemeenskapsveiligheidsforum, sê ’n melkboer van Welkom, Fanie van Jaarsveld, het Woensdagoggend gesien ’n bakkie met ’n sleepwa vol sinkplate staan langs die pad buite Welkom.

“Die sleepwa was glo te swaar gelaai. Dit het begin swaai, toe verloor hulle beheer en ry die veld in,” sê Terblanche.

Van Jaarsveld het alarm gemaak en die plaaslike veiligheidsplan is in werking gestel.

Die diewe het intussen die sleepwa afgehaak en van hulle het met die bakkie gevlug, terwyl twee in die veld ingehardloop het.

’n Boer van Welkom, Fanie van Jaarsveld, het vroegoggend die bakkie en sleepwa langs die pad gesien.

Terblanche sê hy en die twee Bezuidenhout-neefs, Pieter en Klein Jan, en nog boere was sopnat soos hulle die diewe deur die water gejaag het.

Klein Jan het toe in die slikdam ingegaan om die een man uit te haal.

Terblanche sê die sinkplate is sowat R40 000 werd en dit was die derde vrag wat by ’n boer van Bultfontein gesteel is. Hy sê daar is ook twee vragte by ’n ander boer gesteel.

“Dit is lekker om te sien hoe ons sukses behaal,” sê Terblanche.

Hy sê die forum het 8 000 lede.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die diewe het die boer se stoorkamer Dinsdagnag geplunder en 60 sinkplate gesteel.

Thakeng sê die polisie waardeer die hulp en vinnige optrede van plaaslike boere en veral die twee Bezuidenhout-neefs werk baie hard om misdaad te help bekamp.

Twee lede van Welkom se honde-eenheid, Bones Benecke en Wassie Wasmuth, het met die gemeenskap saamgewerk en een van die diewe naby die lughawe gevang.

Thakeng sê die mans is 32 en 35 jaar oud en sal binnekort in Bultfontein in die hof verskyn.

Die bakkie is in Hani Park, Bronville, gevind en die polisie het daarop beslag gelê.

Meer oor:  Odendaalsrus  |  Veediefstal  |  Dief  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.