Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer geskiet ‘al was hy reeds bewusteloos’

Hennie Moldenhauer, die boer van Amersfoort wat verlede Sondag met sy eie pistool doodgeskiet is, was glo reeds bewusteloos toe hy die doodskoot toegedien is.

Hennie Moldenhauer

Die polisie het drie dae later ’n verdagte van die Ezamoku­hle-township (by Amersfoort) aangekeer. Die man het glo ’n bekentenis gemaak, maar hom Woensdagaand in die polisieselle met sy kouse aan ’n seldeur opgehang.

Moldenhauer (54) se skoondogter, Sulene van der Merwe, het die afgelope week aan Rapport gesê die familie vermoed hy het op twee stropers met ’n hond op sy plaas afgekom en die hond uit sy Land Cruiser doodgeskiet. “Toe klim hy uit om die stropers te konfronteer.

“Op een of ander manier het hy tussen die twee beland en hulle het hom aangeval,” sê Van der Merwe.

Sy sê die stropers het haar skoonpa bewusteloos geslaan.

“Die verdagte het vir die polisie gesê my skoonpa was bewusteloos, maar hulle was bang hy kom soek hulle as hy wakker word. Toe haal hy sy pistool uit my skoonpa se holster en skiet hom net daar dood.

“Toe my skoonpa val het ammunisie vir sy jaggeweer uit sy sak geval. Hy was baie versigtig met vuurwapens en sou nooit met ’n gelaaide jaggeweer rondry nie. Toe hulle die ammunisie sien, het hulle geweet daar is nog ’n geweer.”

‘Hulle was bang hy kom soek hulle.’

Van der Merwe sê die man het vir ondersoekers vertel hy en sy makker het “baie rustig en kalm, want die gevaar was verby” na die naaste grensdraad geloop, deurgeklim en die geweer in ’n dam op buurgrond, wat aan Eskom behoort, gegooi.

Van der Merwe sê dit was Moldenhauer se gebruik om daagliks omstreeks 04:00 sy beeste te besoek en die grensdrade na te gaan. “Naweke het hy ’n bietjie later – ongeveer 06:00 – gegaan. Verlede Saterdag het hy jakkalse gesien en besluit om hulle Sondagoggend van kant te gaan maak.”

Haar skoonma, Mokkie, se grootste vrees was dat Moldenhauer, nes haar eerste man, aan ’n hartaanval sou omkom.

Toe sy dus sien haar man het nie die skape oopgemaak soos dit sy gewoonte was nie, was haar eerste gedagte hy het ’n hartaanval gehad. Sy het hom probeer bel en uiteindelik gaan soek.

Sy het net ná 09:00 op sy lyk afgekom in die veld langs die steeds luierende Land Cruiser.

Van der Merwe sê dit was duidelik roof was nie die motief nie. “Langs my skoonpa het die hond gelê wat hy geskiet het, maar sy beursie met R30, sy sigarette, selfoon en al die kleingeld in die Cruiser was nog daar.”

Brig. Leonard Hlathi, ’n polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig die verdagte is in hegtenis geneem. “Die man het bekentenisse gemaak en uitwysings gedoen. Die slagoffer se vuurwapens is ná ’n besoek aan die toneel saam met die verdagte teruggekry.”

Hy sê ’n beampte het om 01:55 Donderdag op die lyk van die verdagte afgekom.

Meer oor:  Hennie Moldenhauer  |  Amersfoort  |  Plaasmoord  |  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.