Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer ingewag, vermoor ná kind dalk deur oopsluit
Die Bosch-sibbe tydens ’n familiegeleentheid. Voor is Theunis en sy tweelingsuster, Susan en agter staan sy twee broers, Christo, links, en Pieter.. Foto: Verskaf

Theunis Bosch (74) het Woensdagaand die 24ste slagoffer sedert 1994 geword van ’n plaasmoord in die omgewing van Vredefort. Daar word vermoed dat ’n jong kind by sy moord betrokke was en die deur van sy huis van binne af vir die aanvallers oopgesluit het.

Die gemeenskap hier begrawe bykans elke jaar iemand wat op ’n plaas vermoor word.

Bosch, wat op dieselfde plaas as sy tweelingsuster Susan Maree en haar man, Johannes, gebly het, is vermoedelik ingewag nadat hy die middag laat by die Maree-egpaar gaan eet het.

Susan is ’n hoenderboer en bedryf ’n hoenderabattoir op die plaas Mynrust.

Bosch het tydens die ete aan sy suster en swaer gesê dat vier mans met ’n wit Toyota Tazz by sy huis opgedaag het en water gevra het.

Die mans se optrede het Bosch onrustig laat voel en hy het gesê net een moet uitklim om water te tap.

Die twee huise is vier minute se stap van mekaar, sê Johannes.

Bosch is ná ete terug na sy huis, maar was die volgende dag nêrens te sien nie.

Die Marees het aangeneem dat hy saam met ’n vriend Nampo toe is, maar teen Donderdagaand bekommerd geword omdat hy nie sy selfoon beantwoord het nie.

Johannes het Vrydagoggend vroeg die diefwering by ’n venster afgesaag en op Bosch se lyk in die gang afgekom.

Bosch is in sy borskas geskiet en sy .22-pistool en ’n beursie word vermis.

Johannes sê dit lyk asof hy met sy eie vuurwapen doodgeskiet is.

Die huis was ’n chaos, daar was bloedspatsels en ’n groot plas bloed waar hy doodgebloei het.

’n Byl en twee handgemaakte messe is ook in die huis gevind.

“Die huis was ’n chaos, daar was bloedspatsels en ’n groot plas bloed waar hy doodgebloei het,” sê Johannes.

Daar was beslis ’n struweling.

Hy sê een van die huis se ruite is gebreek en hy glo iemand wat baie klein is, het deur die diefwering geklim.

“Daar is voetspore van ’n kind op die werf gekry en ons dink die kind is ingestuur om die agterdeur van binne af oop te sluit,” sê Maree.

Die agterdeur se sleutel is weg.

Bosch het voorheen by Sasol en Denel gewerk en ook as elektroniese raadgewer op bouprojekte gewerk.

“Susan kry baie swaar. Hulle het ’n baie noue band gehad,” sê hy.

Johannes sê Bosch het baie beskeie geleef en was ook nie in ’n werksituasie waar hy vyande kon maak of op iemand se tone kon trap nie.

“Hy was vreedsaam, iemand wat nie ’n vlieg skade sou aandoen nie,”

Bosch laat drie kinders, Annalize, Theunis en Beatrice en twee broers, Pieter en Christo, agter.

Sy vrou, Minnie, was ten tyde van die moord op Vereeniging waar sy na haar kleinkinders omsien.

Meer oor:  Vredefort  |  Plaasaanval  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.