Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer loof beloning uit ná slagting van 25 skape

“Die boere in Mpumalanga, net soos enige ander provinsie in die land, loop byna daagliks onder die diefstal en slagting van vee op hul plase deur.”

Die toneel van die slagting van 25 skape op die plaas Weltevrede naby Standerton, Mpumalanga, die afgelope naweek. Foto: Verskaf

So sê Carel Botha, AfriForum se voorsitter in die Delmas-distrik, ná die slagting van 25 skape die afgelope naweek op die plaas Weltevrede naby Standerton.

Die eienaar van die skape het intussen ’n beloning van R5 000 uitgeloof vir enige inligting wat daartoe lei dat die skuldiges vasgetrek word.

“Dit is baie moeilik vir boere om bedags te boer en dan snags in hul bakkies agter veediewe aan te neuk. Die buurtwag en veiligheidsmaatskappye lewer goeie werk, maar kan ook nie orals oë hê nie. Die prys van vleis en vleisprodukte verhoog en daarom word die verkoop van vleis op die swartmark al hoe gewilder. Dit bly ’n reuse-terugslag vir enige boer wanneer sy diere vir vleis geslag of gesteel word,” sê Botha.

Jandré Kasselman van Kasselman-veiligheidsdienste in Standerton sê dat 25 skaapkoppe Sondag ’n entjie van die Tweedronk-pad deur die eienaar in ’n veld gevind is. “Dit is hartverskeurend en ’n groot verlies. Die diewe se modus operandi verskil – partykeer laai hulle die hele skaap op ’n bakkie om te verkoop en ander kere word die skape se binnegoed verwyder en hul koppe afgekap en in die veld gelos. Daar is ’n rits onwettige slaghuise in die omgewing wat die vleis dan verkoop. Skape, beeste, varke en hoenders word meestal deur diewe geteiken,” sê Kasselman.

“Met soveel uitdagings soos die stygende koste van arbeid, diesel en elektrisiteit uit talle oorde is dit verstaanbaar dat boere soms ’n gevoel van magteloosheid ervaar en wonder of hulle moet voortgaan om te boer,” sê Kasselman.

Op dié manier kan boere meer aktief betrokke raak by ondersoeke en die bekamping van veediefstal.

Volgens hom is die merk van vee, sekuriteitskameras, ’n buurtwag en veiligheidsdienste van die maniere om veediefstal doeltreffend te bekamp.

’n Boer van die Standerton-omgewing, wat anoniem wil bly, sê dat boere meer betrokke moet raak en inligting op die veediefstalforums in hul distrik moet uitruil. “Op dié manier kan boere meer aktief betrokke raak by ondersoeke en die bekamping van veediefstal,” sê hy.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, raai alle boere aan om veediefstal onmiddellik by die polisie aan te meld. “Veediefstal, wat opkomende en kommersiële boere raak, het die afgelope tyd ’n lonende besigheid geword. ’n Toename in veediefstal kan ook in ’n mate toegeskryf word aan die feit dat sommige boere steeds nie hul vee behoorlik merk nie, wat die risiko van diefstal net verder verhoog. Veediefstal moet so gou moontlik aangemeld word. Dit sal die ondersoek van die veediefstaleenhede aansienlik vergemaklik,” sê Hlathi.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Veediefstal  |  Landbou  |  Misdaad  |  Boere  |  Skape
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.