Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer met hamer, vuurwapen by Villiers aangerand

’n Boer van die Windfield-omgewing tussen Frankfort en Villiers in die Vrystaat is in die hospitaal opgeneem nadat hy Donderdagaand op ’n plaas aangeval en beroof is.

Louis Roux (in sy 60’s), wat vir ’n boer werk, maar self met beeste en skape boer, is omstreeks 19:00 deur ’n onbekende aantal aanvallers aangeval terwyl hy besig was om die skure te sluit.

Die aanvallers het na bewering sy knie met ’n hamer geslaan en hom met ’n vuurwapen se kolf oor die kop geslaan totdat hy sy bewussyn verloor het.

Os du Plessis, sy buurman, sê die aanvallers het hom ook met ’n mes gesteek en hom vasgebind voor hulle vuurwapens geroof het.

“Die oom het baie seer gekry, maar hy is in die hospitaal en gaan leef. Dit is erg. My pa (Jannie) is self ses jaar gelede op ’n plaas vermoor.

“Ons is almal gelowige mense en moet vasklou aan ons geloof. Geloof hou ons aan die gang. Dit is ’n misdaad wat almal raak,” sê hy.

jannie du plessis, villiers, plaasmoord
Jannie du Plessis van Villiers wat in 2013 vermoor is. Foto: Facebook

Jan Oost, ’n VF Plus-raadslid en boer, was op die toneel en sê die aanvallers het ook Roux se TV en selfoon gebuit.

“Die oom is oorrompel terwyl hy besig was om die skure te sluit. Hy is daarna aangerand totdat hy sy bewussyn verloor het en is met dasse vasgebind. Ons veroordeel die aanval ten sterkste,” sê hy.

Jan van Niekerk, voorsitter van Verkykerskop se boerevereniging en die provinsiale leier van die VF Plus, sê die aanval kon net so sleg geëindig het soos verlede naweek se aanvalle toe Janus Powell, ’n jong boer van Hoopstad, Farhad Moosa, ’n sakeman van Albert Falls wat ’n onderneming van sy plaas af bedryf het, en ’n plaaswerker van Potchefstroom vermoor is.

“Die aanval is net weer ’n bewys dat die ANC nie genoeg moeite doen om plaasaanvalle te stop nie. Plaasaanvalle moet ’n prioriteitsmisdaad wees, dit sal mense afskrik om die misdade te pleeg,” sê hy.

Konst. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

* Oor die Paasnaweek was daar 13 plaasaanvalle, waartydens drie mense vermoor is, en ’n vrou verkrag is. Baie mense is ook erg aangerand.

Meer oor:  Louis Roux  |  Frankfort  |  Villiers  |  Vrystaat  |  Hamer  |  Vuurwapen  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.