Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer met piksteel geslaan, toe doodgebrand

Johan Pretorius moes volgens die spore en bloedmerke by sy skoonpa se plaashek ’n “hengse bakleiery” opgesit het, voordat hy doodgebrand het.

’n Foto van Johan Pretorius (44) wat sy vrou, Kobie, in 2017 op Facebook geplaas het onder die opskrif “My Geliefdes”. Foto: Facebook

Die piksteel waarmee hy verskeie kere geslaan is, was middeldeur gebreek.

Mense wat Donderdagaand op ’n noodroep van ’n brand by Daan Wessels se beesplaas duskant Nigel aan die Oos-Rand gereageer het, het die 44-jarige man se lyk langs die gebrande bakkie gevind.

Johan is Wessels se skoonseun.

Die oorledene se bril, selfoon en een skoen is ook op die toneel gevind, terwyl daar “baie bloed” teen die hek is.

Party sê hoewel hulle aan die goed rondom die voertuig kan sien dat dit Johan is, “is hy so verbrand dat die polisie seker DNS-toetse sal moet doen om sy identiteit amptelik te bevestig”.

Deon Pretorius (nie familie nie), van Monitor24-Security, sê hulle het net ná 19:30 ’n noodboodskap gekry oor ’n voertuig wat naby die plaashek brand.

“Toe ons op die toneel kom, het ons die oorledene se erg gebrande lyk langs die voertuig gevind,” sê hy.

Die plaashek was met draad toegedraai.

Hy het moontlik uitgekom, maar langs die bakkie beswyk.

“Dit lyk of iemand hom ingewag het en, toe hy uit die voertuig klim om die hek oop te maak, oorval het. Ons vermoed hy is toe ernstig beseer en in die bakkie gesit voordat die voertuig aan die brand gesteek is.

“Hy het moontlik uitgekom, maar langs die bakkie beswyk,” sê Pretorius.

Johan, sy vrou Kobie, en hul klein dogtertjie, bly in ’n aparte huis op sy skoonpa se plaas.

Hoewel die huis nie ver van die hek af is nie, is daar ’n stoor tussen die huis en hek.

Johan Pretorius se uitgebrande bakkie. Foto: Verskaf

“Kobie sou dus nie die hek van die huis af kon sien nie,” sê ’n inwoner van die gebied.

Volgens hulle het die vrou, vir wie Monitor24 intussen ’n berader gereël het, net gesien dit lyk of die veld brand. Sy het haar pa gebel omdat haar man nog nie tuis was nie.

Wessels het glo op sy skoonseun se lyk en die bakkie afgekom toe hy die “veldbrand” wou blus.

Kapt. Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder, sê dit blyk dat Johan verskeie kere met die piksteel oor veral sy kop en bolyf geslaan is.

“Dit lyk asof hy in ’n stadium probeer weghardloop het, maar toe geval het voordat die aanvaller(s) die voertuig aan die brand gesteek het,” sê hy.

Ramphora wou in die stadium nie bevestig of Johan in die bakkie was toe dit gebrand het nie.

“Die ondersoek is nog baie vars. Wat ons wel kan bevestig, is dat die slagoffer se lyk langs die voertuig gevind is met verskeie brandwonde toe bure, wat ’n brand en rook gesien het, kom ondersoek instel het.

“Niks is geroof nie en ons ondersoek ’n saak van moord,” sê hy.

Meer oor:  Johan Pretorius  |  Nigel  |  Aanval  |  Doodgebrand  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.