Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer oorleef 2de aanval: ‘Jy wonder, is die kool die sous werd?’

Indien daar nie vinnig ’n ommeswaai kom om plaasaanvalle en -moorde te stop nie gaan Suid-Afrika verarm.

So sê Bert Kotzé (48), ’n boer van Tinmyne buite Mokopane in Limpopo, wat verlede week ’n tweede gewapende aanval op sy plaas in minder as twee maande oorleef het.

“Hoe meer boere vermoor word of nie meer kan boer weens die veiligheidsituasie nie, hoe meer raak ons land se kospotte leeg.”

Kotzé sê hy is die vierde geslag wat op die familieplaas, Bellevue, boer en “wil nie vlug nie, maar ’n mens kan nie so aangaan nie”.

“Die rowers het wapens teen my kop gehou. Ons lewe van dag tot dag.”

Enkele dae nadat Kotzé aangeval is, is Jeremias (January) Macheque (39), ’n voorman op die sitrusplaas van die JJ Bekker-boerdery in Toitskraal buite Marble Hall, doodgeskiet.

Bert Kotzé (48), ’n boer van Limpopo, wat verlede week die tweede keer in minder as twee maande op sy plaas in Tinmyne aangeval is. By hom is sy vriendin, Nadia Gallet (39), en haar dogter, Simoné (12). Foto: Verskaf

Hy het Saterdagmiddag lone aan werkers betaal toe hy drie keer in die bors geskiet is deur ’n man wat hom as ’n arbeider voorgedoen het. Die man en nog drie van sy makkers het met van die lonegeld in Macheque se rooi Toyota-bakkie gevlug.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê niemand is in hegtenis geneem nie. Die bakkie is naby die plaas gekry.

Kotzé en Nadia Gallet (39), sy vriendin, is in Mei die eerste keer deur ’n bende gewapende rowers oorval. Daar is toe vuurwapens, skootrekenaars, selfone en juweliersware gesteel.

Verlede Woensdagmiddag het dieselfde rowers Kotzé oorrompel toe hy die hek na ’n beeskraal oopgemaak het. Hy is geblinddoek en met ’n breekyster teen sy kop geslaan voordat sy hande en voete met baaltou vasgemaak is. Die rowers, wat Kotzé van die voorval in Mei herken het, het met hom agterop sy wit Toyota-bakkie die veld ingery.

Hy is in ’n watervoor gegooi en leë sakke waarin dierevoer is, is oor hom gepak. Die rowers het gedreig om hom dood te maak as hy nie sy huis se sleutel vir hulle gee nie.

Kotzé boer met beeste, skape en wild. Hy sê veediefstal het die afgelope tyd erg toegeneem in die gebied.

“ ’n Mens voel hulpeloos, die polisie het nou nog nie gereageer op een van die veediefstalsake wat ek in April verlede jaar aangemeld het nie.”

Mojapelo sê hy sal ondersoek instel na die veediefstalsake.

Kotzé sê hy gebruik hommeltuie as deel van die beveiliging op sy plaas. Hy betaal ook glad nie meer kontantlone aan sy werkers op die plaas nie.

Gallet en haar 12-jarige dogter, Simoné, gaan ook nou teen elke einde van die maand as veiligheidsmaatreël by familie elders woon. Elke middag vanaf 15:00 moet Kotzé en sy werkers die beeste in krale injaag voordat dit donker word en die diere teikens van veediewe word.

“Al die goed maak dit baie moeilik om te boer en ’n mens vra jouself gereeld, is die kool die sous werd?”

Kotzé sê hy klou aan sy geloof. “Die Here is in beheer en ek vestig my hoop op Hom. Ek wil nie van my plaas en boerdery weghardloop nie.”

Meer oor:  Bert Kotzé  |  Tinmyne  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.