Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer oorleef tweede aanval in twee jaar

’n Bejaarde boer wat Donderdag deur aanvallers in die been geskiet is, het daarna in ’n vragmotor vasgery en sy bewussyn verloor.

Dit is tweede keer binne twee jaar dat Jan Randell (75), ’n bekende boer van die Lothair-omgewing in die distrik Ermelo, op sy plaas Bloemkrans aangeval en aangerand is.

Werner Weber, VF Plus-leier in Mpumalanga, het ’n beroep op boere gedoen om nie hul waaksaamheid te verslap tydens die staat van nasionale inperking nie.

Randell is Vrydagmiddag in die Unitas-hospitaal in Pretoria geopereer. Volgens sy seun Jantjie het die koeël van vermoedelik ’n handwapen sy linkerbeen net bo die knie gebreek.

“Hy is in die waakeenheid, maar weens die Covid-19-beperkings mag ons hom nie besoek nie. Ons wag nog om te hoor hoe die operasie afgeloop het en of ons spesiale vergunning kan kry om hom te gaan besoek.”

Jan RandellFoto: Verskaf

Jantjie sê sy pa kon nog nie self vertel presies wat gebeur het tydens die aanval Donderdag omstreeks 18:00 nie. Hy het pas op sy plaas opgedaag ná ’n besoek aan Lothair, toe vermoedelik twee aanvallers hom oorval het net toe hy by die motorhuis wou intrek.

“Hulle het die bakkie se venster aan die passasierskant stukkend geslaan en geskiet toe my pa wegjaag.”

Volgens Jantjie het sy broer, Philip, gehoor toe hul pa om hulp roep op die tweerigtingradio in sy bakkie. “Ek is geskiet,” het hy geskree.

Philip het my gebel met die nuus, maar ons kon my pa nie dadelik daarna op sy selfoon in die hande kry nie.”

Jantjie en Philip boer op ander plase in die omgewing en het na die plaas waar hul pa alleen woon gejaag. Op pad daarheen het hulle hom bewusteloos in sy bakkie in die gras langs die teerpad gevind. Hy het van agter in ’n vragmotor vasgery waar hy van die plaas in die pad ingedraai het en sy kop teen die voorruit gestamp.

“My pa het omtrent ’n halfuur later in die ambulans sy bewussyn begin herwin, maar hy was baie deurmekaar. Hy wou weet wat aangaan.”

Jan Randell toe hy nog gereeld musiek gemaak het op partytjies en danse. Foto: Verskaf

Die polisie en boere in die omgewing het ná die aanval gesien die booswigte het oor die heining in die erf geklim en vermoedelik in die motorhuis geskuil voordat hulle Randell oorval het. Niks is gesteel nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Jantjie sê sy pa is met die vorige aanval ook buite die huis oorval. Die rowers het hom in die huis vasgebind, geslaan, geskop en probeer versmoor.

“Hulle het ook sy vingers gebreek en wou hom nog met ’n strykyster brand, maar het gevlug toe my pa se selfoon skielik lui.”

Randell was net behoorlik op die been nadat hy van twee rugoperasies, ’n nekoperasie en skoueroperasie herstel het.

Hy woon en boer sy lewe lank in die Ermelo-omgewing en bedryf ’n vee-en-saaiboerdery op Bloemkrans waar hy die afgelope twee dekades woon. Hy het vroeër ook dikwels musiek gemaak op troues en dansgeleenthede.

Meer oor:  Ermelo  |  Oorleef  |  Boer  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.