Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer se seun sterf met hande in die lug

‘Kyk, my broer hou sy hande op en daar skiet hy hom, skiet hy hom dood. My broer het afgesak, hy het nie baklei nie.”

Nathan Regal op die stoep waar sy broer Mark en skoonsuster Angela deur rowers oorval is. Angela het op die regterkantste stoel gesit toe twee mans te voorskyn kom. Foto: Deon Raath

Terwyl Nathan Regal (48) na die beeldmateriaal van ’n veiligheidskamera kyk wat wys hoe sy broer Mark (50) die sóveelste Vrystaatse plaasmoordslagoffer word, is hy nie net hartseer nie. Hy is kwaad – kwaad omdat Mark nie ’n vuurwapen gedra het nie.

“Enige mens in die land moet ’n wapen dra. Dis nie ás (jy aangeval word nie) nie, dis wanneer. En wanneer hulle kom, kom martel hulle jou.”

Mark is Woensdagaand tromp­op op sy pa, Joe, se plaas naby Odendaalsrus in die Noord-Vrystaat voor sy vrou, Angela, doodgeskiet. Die ander aanvaller het met Angela begin stoei, maar sy kon die .22 Magnum wat sy in ’n sak aan haar lyf gedra het, in die hande kry en hom noodlottig wond.

“As Mark om die hoek gekom het met ’n wapen, het hy een geskiet en Angela een geskiet,” sê Nathan.

Angela kon haar .22 Magnum gebruik.

Hy boer saam met die 74-jarige Joe op die plaas Thelma. Mark en Angela het in die plaashuis gaan bly terwyl Nathan en Joe Oos-Kaap toe is om Nathan se seun, Ethan, se woonstel op te pak. Hy het pas klaar gestudeer.

Woensdag omstreeks 19:20 was Mark in die sitkamer reg langs die voorstoep.

Angela het op die stoep reg by die voordeur gesit en rook terwyl sy op die selfoon met haar suster praat. Twee mans het op haar afgestorm.

Toe Angela skree, het Mark opgespring om buitentoe te hardloop, maar een van die mans het hom trompop geloop. Dieselfde man wat hom geskiet het, het op ’n kort afstand twee skote na Angela gevuur, maar dit was mis. Hy het weggehardloop.

Ook sy makker se skoot na haar was mis. Dis toe dat sy terugskiet en hom wond.

Nathan sê dat Angela nie getref is nie, is niks anders as God se genade nie.

Mark Regal en sy vrou, Angela, by hul kinders, Blake (20) en Kiara (17).

Niks is gesteel nie. Vier mense se spore is buite die huis gekry.

Nathan sê hulle was nog altyd bekommerd oor die plaasaanvalle in die land en Mark het seker gemaak die veiligheid op die plaas is in orde.

Skaars ’n uur voor die aanval het Mark nog oor die foon vir Nathan gesê alles is reg op die plaas.

Maar toe kom ’n oproep van Angela: “Sy het gesê sy kry nie vir Mark opgetel nie. Sy het so gehuil ek kon nie mooi hoor wat sy sê nie, maar ek het geweet daar is fout en dat Mark geskiet is.”

Nathan het ’n boodskap op ’n WhatsApp-groep van die omgewing gestuur: “Almal, help asseblief. Plaasaanval by Joe Regal. Ek en Joe sit in Jeffreys. My broer is geskiet. (. . .) Op die Thelma-plaas in Odendaalsrus.”

Mark se dood volg net 128 dae nadat hul ma, Petra, oorlede is.

“Ons was geseënd dat my ma die eerste verlies in ons familie was. Nou is daar twee binne vier maande,” sê Nathan. “Ons is ’n baie, baie hegte familie.”

Mark en Nathan het oorkant mekaar in Flamingopark, Welkom, gewoon en hul broer, Ben (52), net om die hoek. Die broers het almal op die plaas grootgeword. Hul oupa het dit in 1962 gekoop.

Mark het in die week ’n koopkontrak onderteken vir ’n plaas naby Welkom. Hy het ’n maatskappy wat mynskagte afbreek en myngrond rehabiliteer, maar wou self voltyds gaan boer.

Nathan sê hulle is verskriklik getraumatiseerd, maar dis veral vir Joe ’n groot verlies.

“Jy kan nog jou pa verloor en jou vrou . . . Maar om jou kind te verloor . . .”

Nathan sê sy pa blameer homself dat hy weggegaan het en sy kind gevra het om die plaas op te pas.

“Ek wag om wakker te word uit hierdie nagmerrie,” sê hy.

Mark en Angela het twee kinders, Blake (20) en Kiara (17).

Tientalle boere het Saterdag­oggend ’n optog teen plaasmoorde in Odendaalsrus gehou.

Plaasmoorde

Die jongste misdaadstatistieke wat Vrydag bekend gemaak is, toon daar was van 1 Julie tot 30 September 62,5% meer plaasmoorde as in dieselfde tydperk verlede jaar. Van begin Oktober het plaas- en hoeweaanvalle benewens Mark Regal minstens ses verdere slagoffers in die Vrystaat geëis:

* Brendin Horner (22) is op 1 Oktober op ’n plaas naby Paul Roux vermoor.

* Op 25 Oktober is Andries Loots (63) op ’n varkplaas tussen Welkom en Virginia doodgeskiet.

* Dave Wessels (60) is op 27 Oktober dood ná ’n aanval op sy hoewe by Viljoenskroon.

* Teboho Machakela (37) is op 2 November dood nadat hy op 19 Augustus op sy plaas in Odendaalsrus aangeval en in die kop geskiet is.

* Pieter Hills (56) is op 5 November dood en sy seun, Eddie (26), die afgelope Woensdag ná ’n plaasaanval in Hennenman.

Meer oor:  Nathan Regal  |  Mark Regal  |  Odendaalsrus  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.