Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Woorde oor plaasmoord skaars koud, toe kry hulle sy lyk

Hy het nog onlangs vertel hoe maklik ’n plaasmoord kan gebeur – en toe word sy vrese waar.

Theunis Bosch (74) het die afgelope week ’n slagoffer van ’n moord geword kort nadat hy in ’n gesprek na plaasmoorde verwys het, sê sy tweelingsuster, Susan Maree van Vredefort.

Vier mans in ’n wit Toyota Tazz het by sy huis aangekom en water gesoek, het Bosch tydens ’n middagete aan sy swaer, Johannes Maree, vertel.

Bosch het glo gesê hy is ongemaklik en dat net een van die mans uit die motor moet klim.

Die man het water getap en hulle het gery.

Susan boer met hoenders en het ook ’n abattoir op die plaas Mynrust, tussen Vredefort en Kroonstad.

“Ons huise is vier minute se stap van mekaar en ons het altyd só geëet dat hy voor donker by sy huis kan wees,” vertel Maree.

Hy was baie veiligheidsbewus.

Daar was ook ’n ander venster gebreek en dié diefwering is so nou dat ’n kind kon inklim en die agterdeur van binne kon oopsluit

Die volgende oggend het die egpaar nie vir Bosch gesien nie, maar hulle was besig en is later Vredefort toe.

“Susan wou vir Theunis ’n boodskap gaan gee toe ons terugkom, maar hy was nêrens te sien nie,” vertel Maree.

Sy voertuie was op die werf.

Bosch wou graag die week Nampo toe gaan en het rondgevra vir iemand om mee saam te ry. Hulle het aangeneem hy is soontoe.

Die middag laat was hy nie terug nie. Hulle het hom probeer bel. Sy foon het gelui, maar hy het nie geantwoord nie.

Maree sê hulle was onrustig en het in die huis ingeloer, maar kon niks verkeerd sien nie.

Die vertrek was baie deurmekaar, maar hulle het geglo Bosch is by Nampo.

Om 02:00 die nag het hulle weer gaan kyk of Bosch terug is. Teen dié tyd was hulle baie onrustig en sy selfoon het net gelui as hulle hom bel.

Maree sê Vrydagoggend het hy die diefwering by een venster afgesaag en op Bosch se lyk afgekom waar hy in die gang gelê het.

Maree sê daar was ook ’n ander venster gebreek en dié diefwering is so nou dat ’n kind kon inklim en die agterdeur van binne kon oopsluit. Hy glo die moordenaars het ’n kind laat inklim want daar is ’n baie klein voetspoor buite die huis gekry.

Maree sê ’n handgemaakte mes en ’n byl het by Bosch gelê.

In die kombuis het nog ’n handgemaakte mes gelê.

Maree sê die polisie sê hy is twee keer in sy borskas geskiet en al wat vermis word, is sy eie .22-vuurwapen.

“Dit lyk asof hulle hom ingewag het en met sy eie vuurwapen vermoor het,” sê Maree.

Bosch het by Sasol en Denel gewerk en tot onlangs in Kroonstad as ’n elektroniese kontrakteur op bouprojekte gewerk.

“Susan kry baie swaar. Hulle het ’n baie noue band gehad,” sê hy.

Sy vrou, Minnie, was ten tyde van die moord op Vereeniging waar sy na haar kleinkinders omsien. Bosch word ook oorleef deur drie kinders, Annalize, Theunis en Beatrice.

Maree sê dit was die 24ste plaasmoord sedert 1994 in ’n radius van 60 km om Vredefort.

In Maart 2018 is Dirk Steenkamp buite Vredefort vermoor.

Meer oor:  Theunis Bosch  |  Vredefort  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.