SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Misdaad
KYK: Plaastwis lei tot woeste skietery; boer, buurman, polisielid dood

’n Skietery laat Donderdagaand op ’n plaas naby Koffiefontein in die Vrystaat het die lewe van drie mense, onder andere ’n polisiebeampte, geëis.

Coen Badenhorst (36), ’n boer van die omgewing, het eers sy buurman, Paul Nel (66), doodgeskiet en toe op polisiebeamptes wat by die toneel opgedaag het, losgebrand.

Twee polisiebeamptes is gewond en een is op die toneel dood.

Badenhorst het glo met ’n jaggeweer met ’n teleskoop op die beamptes gewag en op hulle geskiet toe hulle by die toneel opgedaag het. Die polisie het hom gewond en hy het ook later aan sy wonde beswyk.

Volgens kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het konst. Vuyani March (27), wat in die kop geskiet is, op die toneel gesterf terwyl sers. George Calvert (41) in die gesig gewond is en na ’n hospitaal in Kimberley geneem is.

Volgens Mbambo het Badenhorst sy buurman glo al voorheen gedreig. Dit is egter nog nie bekend wat die dreigement voorafgegaan het of wat tot Donderdagaand se skietery gelei het nie.

Badenhorst het Nel omstreeks 23:00 op sy (Nel se) plaas, Dassieklip, doodgeskiet.

Polisiebeamptes en boere was besig met blou-en-wit-lig-patrollies toe hulle Badenhorst se bakkie in die omgewing gewaar het.

’n Polisiebeampte, wat die bakkie herken het en van die dreigement geweet het, het Nel gebel om hom te waarsku.

Gedurende die telefoongesprek het die beampte ’n geraas gehoor, waarna Nel se foon doodgegaan het.

Met die polisie se aankoms op sy plaas het hulle op Nel se lyk op die stoep afgekom. Hy het ’n skietwond in die kop gehad.

Badenhorst, wat glo in die bosse weggekruip het, het daarna op die polisie losgebrand en March en Calvert gewond.

Die polisie het teruggeskiet en Badenhorst is in die regterkant van sy lyf, regterarm en bobeen geskiet. Hy is op pad na die hospitaal dood.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, Vrystaatse polisiehoof, het die skietery betreur en sy medelye met die familielede, kollegas en vriende van die oorledenes uitgespreek.

“Dit is jammer dat ons wakker geword het met sulke gruwelike en ontstellende nuus van nog ’n voorval in Koffiefontein waarin een van ons lede in die uitvoering van sy pligte vermoor is.

“Ek wens die beseerde lid wat in die Kimberley-hospitaal opgeneem is ’n spoedige herstel toe.”

Die polisie het beslag gelê op ’n jaggeweer en ondersoek drie sake van moord en twee van poging tot moord.

Meer oor:  Coen Badenhorst  |  Koffiefontein  |  Geskiet  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.