Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer ‘te siek’ vir aanklag oor molestering

Dis die oud-LP se woord teen die afgetrede boer se woord. Daarom het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit om die “baie siek” boer nie van seksuele aanranding aan te kla nie.

Pierre-Jeanne Gerber: “Ek het gevries en als probe
Pierre-Jeanne Gerber: “Ek het gevries en als probeer uitblok.” Foto: Edrea du Toit

Die oud-ANC-politikus Pierre-Jeanne Gerber (57) het dié week in sy huis naby Wellington in die Wes-Kaap vertel van sy teleurstelling omdat die NVG ’n bejaarde man van Worcester nie vervolg nie.

Hy praat moeilik oor daardie nag in 1974 in die pastorie in  Indwe in die destydse Transkei. Sy pa was die NG predikant.

Die fyner besonderhede van wat gebeur het, sou hy net in ’n hof wil vertel, sê hy. Vir nou is dit net te swaar.

Daardie dag het sy tante, haar dogter en ’n 28-jarige boer in ’n blougroen Datsun 1200 uit Worcester by die huis opgedaag. Die boer het seisoenwerkers kom kontrakteer.

Daar was nie genoeg slaapplek vir almal nie. In die hoek van sy ma se naaldwerkkamer was ’n enkelbed en sy pa het voorgestel dat hy en die boer dit deel.

Dit was die langste nag in my lewe. Ek kon nie vlug nie, want dit sou die hele huishouding omdop.

“Goddank my vader het nie gesê dat my boetie, toe ses jaar oud, die bed met die man moes deel nie.” Gerber was toe 12.

“Ek moes teen die muurkant van die bed slaap en die boer aan die voorkant. Die man het ongebad en vuil gaan slaap en het nog geruik na die langpad se sweet met sy lang armhare en growwe hande.

“Dit was die langste nag in my lewe. Die kerk oorkant die pastorie se kerkhorlosie het elke kwartier ten minste vier keer geslaan en boonop elke uur die tyd ge-ghong. Ek kon nie vlug nie, want dit sou die hele huishouding omdop. Ek het gevries en als probeer uitblok.”

Die volgende oggend vroeg het hy by die onderkant van die bed uitgeseil en “desperaat” gaan stort.

“Ek kon my vader nie die oggend soengroet soos altyd voordat ek skool toe gestap het nie, in fact, vir baie jare het ek dit en enige fisiese aanraking aan ’n man vermy. Ek is die oggend skool toe en ek het alles daarna uit my kop gesit.

“My lewe was nooit weer dieselfde nie. Ek het dit so ver weggesteek en het eers jare daarna dit vir enkele mense vertel.”

Hy het oor die jare gewonder of die boer nog leef. “Een aand, so ’n paar jaar gelede, het ek saam met my gesin die nuus op TV gekyk en toe verwys hulle na die Frankel-uitspraak. Ek het opgespring met ’n gebalde vuis in die lug. My kinders het nie geweet hoekom nie en ek het hulle ook nie vertel nie. Dit was vir my ’n ongelooflike emosionele ervaring, en ek het ’n vlammetjie sien flikker.”

In die Frankel-uitspraak het die hooggeregshof beslis vermeende seksoortreders mag wel aangekla word oor dade van meer as 20 jaar tevore.

Gerber het stil-stil navraag oor die boer gedoen en nog ’n vermeende slagoffer gevind. Die man het ’n verklaring afgelê wat Gerber later aan die polisie en die tugkomitee (wat die NG-gemeente Worcester-Noord later sou instel) sou gee. Rapport het dit onder oë gehad.

Gerber het in Oktober 2018 ’n klag van seksuele aanranding teen die afgetrede boer ingedien.

Lede van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe is na sy huis in Worcester. Die polisie het aan Gerber gesê die boer het bevestig hy het destyds by die pastorie oornag, maar gaan sy swygreg uitoefen.

Die direkteur van openbare vervolging in Makhanda het Gerber enkele maande later ingelig dat hulle die man nie kan vervolg nie omdat hy om mediese redes nie so ver kan reis nie.

’n Platgeslane Gerber het toe aan die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) geskryf.

Adv. Sibongile Mzinyathi, waarnemende adjunk-direkteur van openbare vervolging, het in ’n brief aan Gerber gesê die staat kan baie moeilik genoegsame en afdoende bewyse voorlê om ’n suksesvolle vervolging te bewerkstellig. Gerber is ’n enkelgetuie. Ook “is dit duidelik uit die verslag van (’n dokter) dat die beskuldigde fisies nie in staat is om lang afstande, soos na  In­dwe, te reis nie en kan hy nie sy daaglikse dialise misloop nie”.

Gerber sê: “Ek was platgeslaan en vind die DOV se redes totaal onaanvaarbaar en bisar, aangesien hierdie insidente nie in die openbaar en gedurende die dag geskied nie.”

Hy sê lede van die tugkomitee van die NG gemeente Worcester-Noord het ná besoeke aan die man aan Gerber gesê die man wil ’n “versoeningsgesprek” met hom hê.

 “Ek stel nie belang daarin nie, tensy dit op skrif is. Ek voel daar is dalk nog slagoffers vir wie hý dalk vergifnis moet vra.”

Toe Rapport die afgetrede boer skakel, het ’n vrou geantwoord. Toe sy hoor waaroor die oproep gaan, het sy lank stilgebly en toe die telefoon neergesit. Verdere oproepe en WhatsApp-boodskappe is nie beantwoord nie.

Ds. Charl Stander, aktuaris van die Wes-Kaapland-sinode, sê die kerkraad van die NG gemeente Worcester-Noord het ’n klag ontvang en toe ’n tugliggaam aangewys. “Dit is ’n vertroulike proses en word volgens kerklike riglyne hanteer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.