Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer van Louisenhof se moord steeds ondersoek

Dit was ’n koue wintersaand, die aand van Sondag 2 Junie 2019, toe Stefan Smit (62), ’n bekende wynboer van Stellenbosch, in sy huis op die wynlandgoed Louisenhof buite Stellenbosch doodgeskiet is.

Meer as ’n jaar ná sy dood, wat aanvanklik as ’n plaasaanval beskryf is, is nog niemand in hegtenis geneem nie.

Zurenah Smit tydens haar man se gedenkdiens verlede jaar. Foto: Jaco Marais

Volgens bronne is daar beslis verdagtes, maar wie hulle is, wou die bronne egter nie sê nie.

Intussen sê die polisie by monde van kapt. Frederick van Wyk, ’n woordvoerder, dat die moord nog ondersoek word. “Geen verdere besonderhede kan in hierdie stadium bekend gemaak word nie. Niemand is in hegtenis geneem nie,” het Van Wyk gesê.

Maar terwyl Smit se moord nog onopgelos is, woed ’n felle hofstryd tussen sy weduwee, Zurenah Smit (55), en sy twee dogters uit sy eerste huwelik, Martine en Louie Smit. In hofstukke wat die twee susters verlede jaar by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het, beweer hulle dat hul pa se laaste testament vervals is.

Die vervalser is volgens die hofstukke Zurenah, hul stiefma.

Martine, Smit se jongste dogter, beweer in die hofstukke dat “uit navrae en bewyse beskikbaar dit blyk dat die Januarie 2019-testament ’n vervalsing is wat die eerste respondent laat maak het”.

Sy dogters sê hulle het rede om te glo hul pa se handtekening op dié testament is vervals.

Martine het ’n dringende hofaansoek namens haar en haar ouer suster, Louie, ingedien nadat Zurenah deur die meester van die hooggeregshof in Kaapstad as die eksekuteur van hul pa se boedel aangewys is.

Hulle wil haar as eksekuteur laat onthef en betwis ook die testament wat as hul pa se laaste testament deur die meester van die hooggeregshof aanvaar is.

Smit, Zurenah en ’n familievriendin het die aand van 2 Junie pas aandete genuttig toe drie gemaskerde mans by die Smit-egpaar se opstal op die wynlandgoed Louisenhof op die R44 buite Stellenbosch inbars.

Smit is drie keer met twee vuurwapens van verskillende kaliber geskiet waar hy aan die hoof van die eetkamertafel gesit het.

Niks behalwe die twee vroue se handsakke en selfone is geroof nie.

Hy het op die toneel in ’n plas bloed gesterf.

Zurenah en hul bejaarde vriendin is vasgebind, maar verder ongedeerd gelaat. Niks behalwe die twee vroue se handsakke en selfone is geroof nie.

Bradley van Eyslend, ’n persoonlike lyfwag wat sedert Augustus 2018 vir die Smit-egpaar gewerk en in ’n wooneenheid aangrensend tot die Smitte se wooneenheid gewoon het, het die Maandag ná die voorval gesê hy het niks gehoor nie.

Hy het glo eers van die voorval bewus geword nadat een van die vroue aan die deur, wat die twee wooneenhede skei, gehamer het.

Intussen het regter Elizabeth Maarman in Desember 2019 ’n tussentydse bevel toegestaan wat Zurenah verbied om as eksekuteur van haar vermoorde man se boedel op te tree.

Uitspraak is voorbehou.

Meer oor:  Stefan Smit  |  Louisenhof  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.