Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer, verloofde aangeval, met strykyster bygedam

Niemand sal hom van sy grond verjaag nie, sê ’n Noordwes-boer wat die afgelope week saam met sy verloofde aangerand en met enigiets van ’n sambok en wielyster tot ’n warm strykyster gemartel is.

Chris Barnard sê: “Ek glo iets wonderlik sal uit hierdie aaklige ding kom.” Hy en sy verloofde is op sy plaas naby Koster gemartel.

Donderdagoggend, ure ná die marteling, het Chris Barnard (62) van die Koster-omgewing homself uit die hospitaal ontslaan en is hy terug na sy plaas, Windy Valley. “Ek hinkepink maar met ’n kierie rond, maar ons kan nie toelaat dat kriminele ons van ons grond afjaag nie. Ek bly net hier,” sê Barnard.

Hy en sy verloofde, Hesta du Plessis (52), het Woensdag ná aandete op die stoep gesit toe drie gemaskerde mans skielik agter Barnard verskyn. “Hesta het hulle met haar tee gegooi, toe pak ek hulle.”

Hy “wou-wou die oorhand begin kry” toe hy skielik “soos in die cartoons sterretjies sien”.

“Ek het twee van hulle vas teen die grond gehad, toe begin die derde een my met ’n wheel spanner slaan.”

Hy grinnik. “As ek só na my vuiste kyk, het hulle beslis Donderdagoggend ook ’n paar pyne aan hul lywe gevoel. Ek voel nou soos Gerrie ‘Seer Handjies’ Coetzee.”

‘Ek voel soos Gerrie Coetzee.'

Hy sê twee van sy aanvallers het vuurwapens gehad. “Die een het die hele tyd vir my geskreeu ‘I am going to shoot you!’ en probeer om sy wapen op my te rig, maar ek het elke keer die geweer weggeskop. Ek het gedink eerder deur die voet as deur die pens.”

Hy het probeer regop kom. “Toe ek regop is, het die een my met die loop van sy geweer in die linkeroog geslaan.

“Dis wat nou die seerste is.”

Die mans het Barnard uiteindelik oorrompel en sy hande met kabelbinders agter sy rug vasgemaak. “Hulle het my voos geslaan met ’n sambok, toe moes ek saam met hulle deur die huis loop terwyl hulle geld gesoek het.”

Die aanvallers het die kluis ontdek.

“Hulle het vyf wapens – twee .38 Special-rewolwers, een 9 mm-pistool, ’n .22 en ’n .22 Hornet – gevat.”

Daar was nie geld in die kluis nie, maar Barnard het die laaste R200-noot uit sy beursie vir hulle gegee en gehoop dit sou hulle paai. “Toe vat hulle my badkamer toe, bind my voete ook met cable ties vas. Ek het in Tswana vir hulle gesê ‘Ek is ’n ou madala’, hulle moet vir my ’n kombers gee. Hulle het ’n hemp in my mond gedruk en my met ’n kombers toegegooi.”

Toe begin sy ergste nagmerrie. “Hulle het Hesta by die slaapkamer ingevat. Ek kon alles van die badkamer af hoor. Ek het net die hele tyd gebid hulle moet haar nie verkrag nie.”

Toe begin sy verloofde gil. “Ek weet nie hoe nie, maar ek het die cable ties agter my rug gebreek gekry en begin om dié aan my voete ook te probeer afkry,” sê Barnard.

Die mans het Du Plessis geklap, met die sambok geslaan en “op sewe of agt plekke” met ’n strykyster gebrand.

“Dis verskriklik wat hulle aan haar gedoen het. Die wieletjies en sterretjies onderaan die strykyster sit soos ’n tattoo op haar vel. Hulle het ook ’n stuk van haar kuif met ’n mes afgesny om vir ’n toordokter te gee.”

Barnard sê die mans het met ’n handgemaakte mes “Hesta se borste en skaamdele gedreig”.

Intussen het Barnard verder probeer loskom. Vier keer het die aanvallers kom kyk of hy nog stil lê.

“Die kombers het my bedek, so hulle kon nie sien my hande was klaar los nie, maar ek het die stuk lap uit my mond gehaal. Toe hulle die vierde keer kom kyk en sien dis uit, het hulle besef ek is los. Hulle het my wild geslaan.”

Die mans het hom toe weer vasgebind. “Hierdie keer was dit só styf ek kon nie beweeg nie. Vir Hesta het hulle in die kamer toegesluit. Toe trek hulle my wit Isuzu-bakkie tot teen die huis en dra alles wat inpas – van huisraad tot elektroniese goed soos die TV – uit.”

Die mans is met die bakkie daar weg.

“Daar is ’n CB-radio in die slaapkamer. Toe hulle weg is, het Hesta hier by middernag die radio afgestamp gekry en die knoppie teen haar lyf gedruk, toe begin sy om hulp skree.”

Kapt. Aafje Botma, ’n Noordwes-polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof.

Meer oor:  Hesta Du Plessis  |  Chris Barnard  |  Koster  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.