Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer vermoor, familie vasgebind met draad
Herman BothaFoto: Verskaf

Drie kleinkinders van die boer wat Sondag vermoor is in ’n plaasaanval in die Groblersdal-distrik in Limpopo, moes toekyk hoe 11 gewapende mans hul familielede met draad vasbind.

Herman Botha (64) is hard met ’n ysterpyp oor die kop geslaan en is dood voordat hy per helikopter na ’n hospitaal in Pretoria gevlieg kon word. Hy het Woensdag ’n operasie ondergaan om twee stents in sy hart te sit.

Benita Botha, ’n skoondogter, sê “woorde kan nie die hartseer in ons huis beskryf nie”.

“Hartseer oor onskuldige kinders wat hulle oupa verloor het nadat hulle moes sit en kyk hoe elf gewapende mans ons vasmaak en op die vloer laat lê.”

Boere en die plaaslike buurtwag het die polisie gehelp om reeds Sondag twee verdagtes vas te trek, maar die res van die rowers was vroeg Maandagmiddag nog op vrye voet.

Herman Botha se Toyota Etios wat teruggevind is nadat sy moordenaars daarmee gevlug het.Foto: SAPD

Herman en sy seun, Bernard, het Sondagoggend na van hulle beeste op die plaas gery. Herman se vrou, Meisie, en Benita en haar drie kinders was kerk toe.

Franska Kleinhans, ’n familievriendin, sê Bernard moes nog na ’n spilpunt op die plaas gaan, maar sy pa het vir hom gesê om hom by die plaashuis af te laai, want hy wou solank ’n braaivleisvuur aansteek.

Die bende gewapende mans het die familie ná kerk ingewag.

“Bernard het onraad vermoed toe hy ’n ruk later by die plaashuis aankom en sien die vuur is nog nie aangesteek nie. Hy het die motorhuisdeur oopgemaak om die braaier uit te haal en vasgekyk in ’n man wat ’n pistool op hom gerig het,” sê Kleinhans.

Herman was toe reeds erg aangerand.

Herman Botha en sy vrou, Meisie, by van hulle beeste. Foto: Verskaf

In die huis is Meisie en Benita met draad vasgebind. Benita en Bernard se drie kinders, waarvan die jongste ’n tweejarige meisie, is in ’n ander kamer toegemaak.

“Die kinders was ongelooflik bang,” sê Kleinhans.

Meisie en Benita was ook vreesbevange oor wat die aanvallers moontlik aan hulle sou doen.

Die aanvallers het met ’n onbekende aantal vuurwapens en selfone in Herman se wit Toyota Etios gevlug.

Hoewel Herman baie ernstig beseer was ná die houe oor sy kop, het hy nog met sy familie gepraat. Hy het egter kort daarna aan sy beserings beswyk.

“Die gemeenskap is geskok en in rou ná wat gebeur het. Hy was ’n dierbare mens,” sê Kleinhans.

Herman was lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Groblersdal en het ook op ’n komitee vir landelike veiligheid gedien.

Dr. Theo de Jager, president van die Wêreld-landbouorganisasie, sê hy is geskok oor Botha se dood. “Hy was ook ’n lid van Agri-Limpopo se veiligheidskomitee.”

Die Botha-boerdery in die Loskop-vallei in die Groblersdal-distrik bestaan al 68 jaar. Hulle is besproeiing- en beesboere.

* Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê later Sondag is beslag gelê op Botha se Toyota Etios wat verlate naby Loskop-winkels gevind is. Van die gesteelde vuurwapens (twee pistole) was nog in die voertuig.

Die res van die aanvallers is vermoedelik in ’n silwer Toyota Fortuner opgelaai. Dié voertuig is later sowat 20 km vanaf die plaas gekry. Die polisie stel nog vas aan wie die Fortuner behoort.

Enigiemand met inligting kan kapt. Richard Boshomane op 079 894 5501 bel.

Meer oor:  Limpopo  |  Groblersdal  |  Plaasaanval  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.