Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer vertel hoe ‘stropers’ hom 2 keer in rug skiet

Die boer in Noordwes wat self hulp ontbied het nadat hy twee keer geskiet is, kan nou al eet en praat.

Pier Schutte (43) het Vrydag uit sy hospitaalbed in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg die eerste keer self vertel hoe hy verlede week op die Xaxaba-wildplaas naby Brits oorval en geskiet is.

Hy is oortuig dis wildstropers wat hom geteiken het weens die aktiewe rol wat hy in die bekamping van voortdurende stropings op sy en ander plase in die omgewing speel.

“My dokters is verbaas oor my vinnige herstel. Ek hoop om binnekort uit die waakeenheid na ’n gewone saal te skuif en gou ontslaan te word. Ek eet al die laaste twee dae normaal.”

Volgens Schutte het hy sy twee ongemaskerde aanvallers verlede Woensdag (5 Mei) herken as stropers wat voorheen weens dié misdryf in die hof verskyn het. Hy het omstreeks 18:00 sy skape in ’n kraal gaan toemaak toe hy opmerk sy hond is onrustig. Schutte is na die (onbewoonde) wooneenhede naby die kraal om te gaan ondersoek instel. Hy het sy rewolwer en selfoon by hom gehad.

“Een van die aanvallers het uit ’n kamer gekom en op my begin skiet. Die koeël het my in die rug getref. Dit was nie dadelik seer nie, ek het net so ’n vreemde, warm gevoel gekry. Ek het teruggeskiet. ’n Tweede aanvaller het toe ook uitgekom, op my geskiet en my ook in die rug getref.”

Pier Schutte Foto: Facebook

Die beseerde Schutte het die bosse in gevlug om daar te gaan skuil. Hy het in ’n stemboodskap hulp gevra by sy buurman en die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF). “Ek het kort daarna gehoor hulle kom by die hek in.”

Schutte het toe al erge pyn verduur en baie gebloei, maar in die donker na sy bakkie naby die skaapkraal geloop sodat hulle hom daar kon kry. “Alles in die bakkie was uitgegooi soos hulle gesoek het na iets om te steel. Ek wou net lê.”

Die rowers het intussen gevlug. Paramedici is na die toneel ontbied en Schutte is per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem.

“Die paramedici het op die toneel reeds vir my morfien gegee. Wat daarna gebeur het, kan ek niks van onthou nie. Ek het eers Sondagoggend behoorlik tot my sinne gekom.”

Schutte is met sy aankoms by die hospitaal geopereer. Hy is aanvanklik aan ’n ventilator gekoppel.

Sy milt moes verwyder word en ander skade aan sy ingewande moes herstel word.

“Die een koeël het in twee gebreek,” sê Schutte. “Die een deel het my milt, diafragma en maag getref en die ander deel is deur my linkerlong. Die tweede koeël was meer ’n vleiswond en het nie groot skade aangerig nie. Albei die koeëls is in en uit, geen koeëls moes dus verwyder word nie.”

Schutte woon alleen op die familieplaas. Hy is nie getroud nie. “Stropery is ’n groot probleem hier. Hulle het die afgelope weke onder meer ’n kameelperd, blouwildebeeste en rooibokke by my gestroop. Wild soos koedoes, sebras en bokke word ook op buurplase gestroop.”

Schutte is in Januarie ook by sy plaashek oorval en daar is op hom geskiet, maar hy is nie getref nie. Hy het teruggeskiet en die aanvallers het gevlug.

“Die stropers skryf boodskappe in die sand voor my hek waarin hulle my met die dood dreig. Ek is nommer een op hul lys omdat ek aan die stuur is van die GPF se teenstropingstrategie.”

Schutte sal aanvanklik by familie in Johannesburg aansterk voordat hy na die plaas terugkeer. Die plaas is in die mark nadat die familie om verskeie redes vroeër al besluit het om dit te verkoop. Schutte se broer, Emil, sien voorlopig na die plaas om terwyl Pier herstel.

Die polisie kon nie dadelik bevestig of enigiemand al in hegtenis geneem is nie.

Meer oor:  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.