Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer ontbied hulp ná 2 skote in rug

“Ek is twee keer raak geskiet . . . reaksie op pad, asseblief.”

Pier Schutte (43) se asem is horterig terwyl hy in ’n stemboodskap van agt sekondes om hulp vra.

Hy is Woensdag op die Xaxaba-wildsplaas naby Beestekraal, Noordwes, aangeval – die tweede keer vanjaar.

Pier Schutte (43) is in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hositaal, waar hy om sy lewe veg nadat hy in ’n plaasaanval twee keer in die rug geskiet is. Foto: Facebook/Pier Schutte

Schutte se noodkreet is vinnig beantwoord deur bure en die plaaslike plaaswag, wat tot sy redding gekom het.

“Die paramedici is nou hier, maar hy lyk maar baie, baie sleg,” sê een van die plaaswaglede in ’n opvolgboodskap.

Tiaan Schutte, een van Schutte se broers, het Donderdag aan Netwerk24 bevestig hy is per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem. Een van die twee skote is deur Schutte se buik, die ander deur sy long.

Schutte is dadelik met sy aankoms by die hospitaal geopereer en sy milt moes verwyder word. Van hier is hy oorgeplaas na die waakeenheid, waar hy onder verdowing gehou en ook geïntubeer is.

Schutte kon Donderdagmiddag wel effens reageer toe sy ouers hom besoek het.

“Hy kan nog nie praat nie, maar kon beduie dat hy hulle verstaan. Die personeel in die eenheid is ook optimisties oor sy kanse,” sê Tiaan.

Kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, sê niemand is nog aangekeer nie. Niks is in die voorval gesteel nie.

Volgens Myburgh was daar twee aanvallers wat Schutte genader het terwyl hy besig was om skape by ’n pakhuis sowat 800 m van die plaasopstal toe te maak. Hulle het op Schutte losgebrand en hy is twee keer in die rug geskiet.

Schutte het ’n vuurwapen by hom gehad en teruggeskiet, waarna die aanvallers op die vlug geslaan het.

Die moontlikheid word ondersoek dat daar ’n derde verdagte was.

Schutte se noodroep is ongeveer 18:00 gestuur.

Volgens Tiaan boer sy broer al geruime tyd op die plaas. Hy het ’n paar jaar gelede besluit om met ’n boerdery op die familieplaas te begin. Die res van die familie woon in Linden, Johannesburg.

’n Helikopter van Netcare911 wag om die gewonde Pier Schutte (43) na die hospitaal te neem.

Nadat hulle Woensdagaand die nuus ontvang het, het van die familielede deurgejaag na die plaas.

Met hul aankoms op die toneel het dit van polisie- en plaaswaglede gewemel, terwyl ’n lugambulans ook inderhaas gereël is.

“Dit was nie lekker om hom so te sien nie,” sê Tiaan.

Woensdag se aanval was die tweede vanjaar op sy broer.

Vier verdagtes het Schutte in Januarie by die plaashek aangeval en op hom geskiet. Die aanvallers het toe ook op die vlug geslaan nadat hy teruggeskiet het.

Myburgh het bevestig ’n saak van poging tot moord word in verband met dié voorval ondersoek.

“Op 19 Januarie ongeveer 22:00 die aand het hy (Schutte) by sy plaashek stilgehou. Hy het die hek oop- en toegemaak en skielik gesien iemand staan agter hom. Dié persoon het toe op hom geskiet,” sê Myburgh.

Die skoot het Schutte rakelings gemis. Hy het teruggeskiet en die aanvallers het op die vlug geslaan.

Niemand is nog aangekeer nie.

Tiaan het die polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum, die publiek en AfriForum, wat gehelp het om die Netcare911-lugambulans te reël, bedank wat tot die redding van sy broer gekom het.

“Daar is soveel mense wat kom help het en vir ons boodskappe stuur. Ons familie waardeer dit geweldig.”

Meer oor:  Noordwes  |  Skote  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.