Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boere bal hul vuis

Te midde van ’n vlaag plaasaanvalle en -moorde wat die landboubedryf die afgelope tyd geruk het, het Vrystaatse boere in net meer as ’n week daarin geslaag om twee keer aanvallers af te weer en dood te skiet.

Foto ter illustrasie. Foto: Argief

In albei gevalle was die aanvallers vermoedelik van Lesotho.

Gerrit van der Walt (59), wat tussen Zastron en Rouxville op die plaas Brakfontein boer, het waarskynlik Saterdagmiddag ’n gewisse dood vrygespring toe hy een van sy aanvallers doodgeskiet het.

Martin de Kock, Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidsverteenwoordiger in die gebied, sê Van der Walt het omstreeks 15:30 sy skape gaan ingejaag.

“Daar is ’n koppie agter die plaasopstal en hy wou die skape vir die nag in die kraal jaag toe twee mans hom ingewag het.”

Van der Walt, wat alleen bly en ook nie enige plaaswerkers het nie, is deur die mans in die beboste gebied langs ’n sinkdam ingewag en met ’n skerpgemaakte ysterstaaf aangeval.

De Kock sê hy glo die mans wou Van der Walt vermoor.

Van der Walt kon daarin slaag om sy vuurwapen uit te haal en het een van sy aanvallers noodlottig gewond.

Die ander aanvaller het gevlug.

Die yster waarmee hulle Van der Walt aangeval het, was 1,2 m lank, sê De Kock.

Die polisie en boeregemeenskap se samewerking was ongelooflik.

Van der Walt het die polisie gebel nadat hy die man geskiet het.

De Kock sê die polisie en boeregemeenskap se samewerking was ongelooflik.

’n Polisielid, sers. Mathews Lebusa, wat in beheer van landelike beveiliging is en met siekteverlof is, het onmiddellik boere laat weet van die voorval en het self op die toneel opgedaag.

Boere van Zastron en Rouxville het hulle na die toneel gehaas.

De Kock sê boere het ’n girokopter en hommeltuig ingespan maar die tweede aanvaller is nog op vrye voet.

De Kock sê Van der Walt, wat aan hoë bloeddruk en diabetes ly, is op die toneel vir ’n paar kneusplekke behandel en het Saterdagnag by ’n buurman oornag.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê klagte van moord, poging tot moord en poging tot roof word ondersoek.

Mbambo sê die man wat dood is het Van der Walt se vuurwapen probeer afneem en hy is in die struweling doodgeskiet.

Van der Walt het aan die polisie gesê hy ken nie die twee mans nie.

Die mans is moontlik uit Lesotho afkomstig.

Twee plaasaanvallers is verlede week op die plaas van John Parr buite Tweespruit doodgeskiet en ’n derde een is ernstig gewond.

Vrydag het David Osborne, ’n boer van Percy Fyfe buite Mokopane, vyf swaargewapende aanvallers gewond toe hy daarin kon slaag om met ’n haelgeweer op hulle los te brand.

Meer oor:  Gerrit Van Der Walt  |  Martin De Kock  |  Mokopane  |  Lesotho  |  Zastron  |  Rouxville  |  Tweespruit  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.