’n Wenk dat renosterstropers uit Bloemfontein na Bultfontein op pad is, het daartoe gelei dat vier vermeende diewe in die Vrystaat gevang is.
Kol. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê polisielede was Woensdag saam met lt.kol. Makgotso Motswedi besig met fiksheidsoefeninge toe die veediefstaleenheid bystand gevra het.

Een van die aangekeerdes lê langs die bakkie waarmee die vermeende diewe gery het. Foto: SAPD
Die eenheid het inligting ontvang dat renosterstropers naby die dorp is en die polisielede is onmiddellik op strategiese plekke ontplooi.
Sowat 25 minute later is ’n Toyota-bakkie gesien en die polisie het die bestuurder beveel om stil te hou.
Makhele sê daar was vier mans in die bakkie en die polisie het die voertuig deursoek.
Daar was nege selfoontoringbatterye, gereedskap wat vir inbrake gebruike word, ’n elektriese hoekslyper, oorpakke en twee nommerplate in die bakkie.

Van die gesteelde selfoontoringbatterye waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD

Die polisie het op onder meer oorpakke, handskoene, gereedskap en nommerplate beslag gelê nadat die vermeende diewe se voertuig voorgekeer is. Foto: SAPD
Makhele sê twee van die mans het weggehardloop toe die polisie hulle in hegtenis wou neem.
Plaaslike boere en inwoners van die Phahameng-township het gehelp om hulle te vang. Een man is in die township en die ander op ’n naburige plaas vasgetrek.
Die polisie het intussen ’n werknemer van Vodacom gekontak en die batterye is as die eiendom van die maatskappy uitgeken.
Makhele sê die mans is tussen 38 en 42 jaar oud en kom onderskeidelik van Limpopo, Noordwes en Gauteng.
Die distrikskommissaris van die Lejweleputswa-distrik, genl.maj. Lerato Molale het die polisielede, boere en ander gemeenskapslede bedank wat die polisie gehelp het.