Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boere in KZN help só om aanvalle te keer

Die afname in plaasaanvalle en -moorde onder kommersiële boere in KwaZulu-Natal tot die laagste vlak in 16 jaar, kan toegeskryf word aan boere se behoorlike benutting van sektorpolisiëring en hul betrokkenheid by landelike beveiliging.

Net een mens is verlede jaar in ’n plaasaanval in dié provinsie vermoor, sê Sandy La Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu).

Die organisasie wys ook daarop dat daar tussen Januarie en Desember 2018 altesame 24 plaasaanvalle by kommersiële boerderye in die provinsie was. Dit sluit in kommersiële boere en mense wat op hul plase woon.

“Dit lyk asof daar in die laaste tyd ’n hoër koers is van inhegtenisnemings en skuldigbevindings, asook vinniger reaksietye nadat misdade aangemeld is. Dit is vanweë die goeie samewerking tussen boere en die polisie,” sê La Marque.

Sy sê kommersiële en opkomende boere werk ook nou saam om veediefstal te bekamp.

“Dit alles help beslis om misdaad te voorkom.”

Volgens La Marque het ’n opname verlede jaar getoon dat 76% van Kwanalu se lede baie goeie verhoudings met die polisie het, 86% by landelike veiligheidsplanne en sektorpolisiëring betrokke is en dat 77% van die lede gereeld vergaderings oor veiligheid bywoon.

“Dit wys daar is hoë vlakke van betrokkenheid,” sê sy.

Volgens La Marque word plaasaanvalle in die provinsie nie deur politiek, die grondkwessie of ras gemotiveer nie, maar wel deur “sosiaal-ekonomiese redes”.

Sy sê dit is belangrik dat boere volledig en korrek ingelig moet wees oor die aard en omstandighede van plaasaanvalle.

Volgens Kwanalu se navorsing is die meeste van die 24 plaasaanvalle in die provinsie op Dinsdae en Donderdae gepleeg.

Vuurwapens is in 14 van die aanvalle gebruik, messe in vier gevalle en byle of bosmesse in ses gevalle.

Die vernaamste redes vir die aanvalle was om vuurwapens en kontant te bekom.

In baie van die aanvalle was die veiligheidsmaatreëls onvoldoende en oortreders het die plase dikwels sommer helder oordag aangeval, sê sy.

“Ons moedig boere aan om ter wille van hul eie veiligheid by plaaslike boereverenigings betrokke te raak. Dit bied hulle toegang tot belangrike inligting en ondersteuning om hulself te beveilig en regstreeks met die polisie te skakel.

“Boere word ook bygestaan wanneer hulle in die howe in strafsake moet getuig,” sê sy.

Meer oor:  Kwazulu- Natal  |  Boere  |  Plase
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.