Landbouverenigings in die Oos-Vrystaat het met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vergader om verskeie klagtes wat die boerderygemeenskap ondervind, te bespreek.
Die kwale wat kop uitgesteek het vir bespreking was onder meer behulpsaamheid met betrekking tot dienslewering en die kommunikasie tussen senior bestuur van die unies en die SAPD in die Oos-Vrystaat, opleiding van polisielede, terugvoering wat ondersoeke betref, die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en die polisie asook die voorvalle van misdade op die Lesotho-grens.
Tommie Esterhuyse, visepresident van Vrystaat Landbou (VL), het die vergadering tussen die SAPD en Harrismith Distrikslandbou-unie, Verkykerskop Landbou en Sterkfontein Landelike Veiligheid gefasiliteer.
VL lê klem op die belangrikheid van die misdaadintelligensie-afdeling by die SAPD.
“Hierdie afdeling speel ’n wesenlike rol in die stryd teen misdaad en moet in hierdie opsig op noodsaaklike proaktiewe optrede fokus.”
Hulle moet ook ’n groter rol speel in gevalle waar die misdaad reeds plaasgevind het, asook die voorkoming daarvan.
VL sê verder in die lig van gesprekke wat onlangs met Bheki Cele, minister van polisie, plaasgevind het, is dit uiters belangrik dat senior bestuur in daardie streke kennis dra van die gemeenskap se frustrasies sodat daar saam na ’n oplossing gesoek kan word.
“Die partye het ooreengekom dat meer en beter terugvoering en kommunikasie gehandhaaf sal word.”
’n Opvolgvergadering sal in die tweede week in Januarie 2021 geskied.