Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Boere, kry vir julle wapens’

Die inperking het die getal plaasaanvalle en plaasmoorde skerp laat daal, maar noudat mense weer vryelik kan rondbeweeg, is dié misdaad terug na die vlakke waarop dit in 2019 was.

Gewapende plaaswagte doen patrolliewerk in die Noordwes. Foto: Getty Images

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê toe die inperking tot vlak 3 verslap is, was daar ook ’n vinnige toename in veediefstal en diefstal van gewasse op landerye. Dit was duidelik mense is honger en steel kos om te oorleef.

Tussen 27 Maart en einde Junie, toe die inperkingsmaatreëls verslap is, was daar 71 plaasaanvalle waarin sewe mense vermoor is teenoor 159 aanvalle en 19 moorde verlede jaar.

In April was daar 11 plaasaanvalle, maar in Mei het dit toegeneem tot 18 en in Junie was daar 48. Daar was een plaasmoord in April, ses in Mei en vyf in Junie.

Cameron sê ál meer boere ba­klei terug en bewapen hulself om aanvallers af te weer. Hulle meen hulle kan nie op die regering staatmaak om hulle te beveilig nie en skep hul eie strukture om misdaad te bekamp.

President swyg oor aanvalle.

“Ons eie navorsing toon dat misdaad laer is op plase waar boere hulself bewapen, hul eie veiligheidstrukture organiseer en betrokke is by hul plaaslike plaaswag of gemeenskapsveiligheidstrukture.”

Chris van Zyl, adjunkhoofbestuurder van die landbou-unie TLU SA, sê al meer boere word in hul landerye of veekrale aangeval omdat misdadigers sukkel om by hul goed beveiligde huise in te kom. Hy vermoed voornemende rowers intimideer huiswerkers en plaaswerkers meer om inligting te kry oor werkgewers se roetines sodat hulle aangeval kan word wanneer hulle kwesbaar is.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê boere voel hulle moet die reg in eie hande neem omdat die polisie heeltemal afwesig is in die landelike gebiede. “Boere glo as die staat my nie meer gaan help nie, dan gaan ek myself moet verdedig.”

Hy sê die regering se stilswye oor plaasaanvalle vererger die boere se frustrasie. “Pres. Cyril Ramaphosa praat gereeld en tereg oor geslagsgeweld en geweld teenoor kinders in ons samelewing, maar hy swyg oor plaasaanvalle asof dit nie bestaan nie. Hoekom spreek hy dit nie aan nie? Plaasaanvalle is net soos dié misdade ’n pandemie wat ook prioriteit-aandag verg,” sê hy.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se sentrum vir landelike veiligheid, sê dit raak moeiliker om boere tot kalmte te maan sodat hulle nie onverantwoordelik reageer op plaasaanvalle nie.

“Ek ontvang al hoe meer oproepe van boere wat wil oorgaan tot militêre aksie en opstandige optredes. Dit is vir ons ’n groot bron van kommer.” Sy raad aan boere is om ’n vuurwapen te dra.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê dit is nie net die ANC se stilswye wat skokkend is nie, maar die feit dat plaasmoorde op sosiale media goedgepraat en selfs verheerlik word en dat mense wat dit doen glad nie weens haatspraak vervolg word nie.

Esterhuyse sê plaasaanvalle het in die laaste tyd veral langs die Lesotho-grens skerp toegeneem. Daar was drie plaasaanvalle in 12 dae in Kommissiepoort, Zastron en in die Boesmanskop-gebied.

“Weerlose bejaardes is in al drie voorvalle wreed aangeval.”

In die jongste insident is Daleen van der Hoeven, wat in haar tagtigs is, Vrydagoggend ernstig beseer in ’n plaasaanval in die Boesmanskop-area.

Weens Covid-19-regulasies kan die polisie nie in Lesotho ingaan om misdadigers te soek nie en misdadigers buit die situasie uit, sê Esterhuyse. Hy sê politieke onstabiliteit, voedseltekorte en die feit dat Lesotho-burgers nie kan terugkeer na hul werk in Suid-Afrika nie, vererger die misdaad.

Chris van Zyl sê sedert die kommandostelsel in 2003 afgeskaf is, kon die regering nie ’n behoorlike landelike beveiligingsplan instel nie. Die polisie se plan was om reserviste in te span om misdaad in plattelandse gebiede te bestry, maar dit het nie gebeur nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.